1 SAMUEL 19:1-10
1 SAMUEL 19:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Saul het vir sy seun Jonatan en vir al sy amptenare gesê hulle moet vir Dawid doodmaak. Maar Saul se seun Jonatan het baie van Dawid gehou. Jonatan het vir Dawid gewaarsku. Hy het vir Dawid gesê: “My pa Saul wil jou doodmaak. Jy moet nou baie versigtig wees. Jy moet môre gaan wegkruip, niemand moet weet waar jy is nie. Ek sal kom en saam met my pa in die veld gaan staan naby die plek waar jy is en ek sal met my pa praat oor jou, sodat ek kan weet wat hy wil doen. Dan sal ek dit vir jou sê.” Jonatan het by die koning gesoebat oor Dawid. Hy het gesê: “Koning, jy moet asseblief nie iets verkeerd doen aan Dawid nie, want hy het nie iets verkeerd gedoen teen jou nie. Alles wat Dawid gedoen het, was baie goed vir jou. Hy het geweet dit is baie gevaarlik om teen die Filistyn te veg, maar hy het dit gedoen en hy het die Filistyn oorwin. Die Here het toe vir al die manne van Israel ver laat wen. Koning, jy het dit gesien en jy was bly. Hoekom wil jy nou verkeerd doen en vir Dawid doodmaak? Hy is onskuldig, hy het niks gedoen waaroor jy hom moet doodmaak nie.” Saul het geluister na wat Jonatan gesê het en hy het belowe: “So seker soos die Here lewe, niemand sal vir Dawid doodmaak nie.” Jonatan het toe vir Dawid geroep en hy het alles vir hom vertel, en hy het vir Dawid teruggebring na Saul toe. Alles was toe weer soos dit voorheen was. Daar was weer oorlog, en Dawid het teen die Filistyne gaan veg. Hulle het hard geveg en Dawid het die Filistyne oorwin. Die Filistyne het gevlug. 'n Bose gees wat van die Here gekom het, het in Saul gekom. Saul het in sy huis gesit, en sy spies was in sy hand. Dawid het musiek gemaak. Saul het probeer om vir Dawid teen die muur vas te gooi met sy spies, maar Dawid het weggespring, en Saul het die spies teen die muur vasgegooi. Dawid het gevlug en hy het daardie nag weggekom.
1 SAMUEL 19:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAARNA het Saul met sy seun Jónatan en met al sy dienaars gespreek om Dawid dood te maak; maar Jónatan, die seun van Saul, het baie van Dawid gehou; en Jónatan het dit aan Dawid meegedeel en gesê: My vader Saul soek geleentheid om jou dood te maak: pas dan nou môre vroeg op en hou jou verborge en steek jou weg. Dan sal ek uitgaan en langs my vader gaan staan in die veld waar jy is, en ek sal met my vader oor jou spreek; en as ek iets sien, sal ek jou dit meedeel. Jónatan het toe goed van Dawid gespreek by sy vader Saul en vir hom gesê: Laat die koning hom tog nie besondig aan sy dienaar Dawid nie, omdat hy nie teen u gesondig het nie, en omdat sy handelwyse u geheel ten goede kom: hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan, en die HERE het aan die hele Israel 'n groot oorwinning besorg. U het dit gesien en u was bly; waarom sal u dan aan onskuldige bloed u besondig deur Dawid sonder oorsaak dood te maak? En Saul het na Jónatan geluister, en Saul het gesweer: So waar as die HERE leef, hy sal nie gedood word nie! Daarop het Jónatan Dawid geroep, en Jónatan het al hierdie woorde aan hom meegedeel. En Jónatan het Dawid na Saul gebring, en hy was voor hom soos gister en eergister. En toe daar weer oorlog kom, het Dawid uitgetrek en teen die Filistyne geveg en 'n groot slag onder hulle geslaan, sodat hulle voor hom uit gevlug het. MAAR 'n bose gees van die HERE het oor Saul gekom terwyl hy in sy huis sit met sy spies in sy hand en Dawid met die hand op die snare speel. Toe probeer Saul om Dawid met die spies teen die muur vas te steek, maar hy het vir Saul gekoes, sodat hy die spies teen die muur vasgooi. En Dawid het gevlug en daardie nag vrygekom.
1 SAMUEL 19:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Saul het naderhand selfs met sy seun Jonatan en met al sy offisiere gepraat om Dawid dood te maak. Maar Saul se seun Jonatan het baie van Dawid gehou. Toe het Jonatan vir Dawid vertel: “My pa wil jou doodmaak. Jy moet tog môreoggend versigtig wees. Gaan sit op 'n beskutte plek en kruip weg. Dan sal ek in die veld waar jy is, langs my pa gaan staan en met hom oor jou praat. As ek agterkom hoe dit gesteld is, sal ek jou dit vertel.” Jonatan het toe vir Dawid voorspraak gedoen by Saul en vir hom gesê: “Die koning moet hom tog nie aan sy onderdaan Dawid besondig nie, want hy het u geen kwaad aangedoen nie, sy dade was baie voordelig vir u. Hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan dié keer toe die Here die groot uitkoms vir die hele Israel bewerk het. U het dit gesien en u was self bly. Waarom sal u sonde doen oor 'n onskuldige man en vir Dawid sonder rede doodmaak?” Saul het na Jonatan geluister en 'n eed afgelê: “So seker as die Here leef, hy sal nie doodgemaak word nie.” Hierná het Jonatan vir Dawid gaan roep, en Jonatan het hom die hele gesprek meegedeel. Jonatan het vir Dawid na Saul toe gebring, en Dawid het vir Saul gedien soos voorheen. Daar het weer 'n keer oorlog gekom, en Dawid het opgetrek om teen die Filistyne te veg. Hy het hulle in 'n bloedige veldslag verslaan, en hulle het voor hom gevlug. Saul het in sy huis gesit met sy spies in sy hand, en Dawid het op die lier gespeel. Toe 'n boosaardige gees wat deur die Here gestuur is, oor Saul kom, het hy geprobeer om Dawid teen die muur vas te pen met die spies. Maar Dawid het weggekoes, en Saul het die spies teen die muur vasgegooi. Dawid het gevlug en daardie nag ontsnap.
1 SAMUEL 19:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Saul het vir sy seun Jonatan en vir al sy amptenare gesê om Dawid dood te maak, maar Jonatan, Saul se seun, het baie van Dawid gehou. Jonatan het dit vir Dawid gaan vertel: “My pa, Saul, is daarop uit om jou dood te maak. Wees daarom asseblief môreoggend versigtig. Gaan sit op 'n geheime plek; kruip weg. Ek sal uitkom en langs my pa gaan staan in die veld waar jy is. Ek sal met my pa oor jou praat. As ek iets agterkom, sal ek jou laat weet.” Jonatan het toe vir Dawid voorspraak gedoen by sy vader, by Saul. Hy het vir hom gesê: “Die koning moet tog nie verkeerd doen wat sy dienaar Dawid betref nie, want hy het niks verkeerds teenoor u gedoen nie. Trouens, sy optrede was grootliks tot u voordeel. Hy het sy lewe in sy hand geneem en die Filistyn verslaan; en die HERE het 'n groot oorwinning bewerk vir die hele Israel. U het dit gesien en was verheug. Waarom sal u dan verkeerd doen deur onskuldige bloed te stort en Dawid sonder rede doodmaak?” Saul het na Jonatan geluister; en Saul het 'n eed afgelê: “So waar as die HERE leef, hy sal nie doodgemaak word nie!” Jonatan het Dawid geroep, en Jonatan het hom alles vertel wat gesê is. Jonatan het Dawid na Saul geneem, en hy was in sy diens soos voorheen. Daar het weer oorlog uitgebreek, en Dawid het uitgetrek en teen die Filistyne geveg. Hy het 'n groot slagting onder hulle aangerig, en hulle het voor hom gevlug. 'n Bose gees van die HERE het oor Saul gekom terwyl hy in sy huis gesit het met sy vegspies in sy hand. Dawid was besig om op die lier te speel. Saul het probeer om Dawid met die vegspies teen die muur vas te pen, maar hy het hom ontwyk, en Saul het die vegspies in die muur vas gegooi. Dawid het toe padgegee en daardie nag ontvlug.
1 SAMUEL 19:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Saul het met sy seun Jónatan en met al sy dienaars gespreek dat hulle Dawid moes doodmaak. Maar Jonatan, die seun van Saul, het baie behae in Dawid gehad, en Jónatan het dit aan Dawid meegedeel en gesê: My vader Saul wil jou doodmaak. En ek sal uitgaan en by my vader gaan staan in die veld waar jy is, en ek sal met my vader van jou praat; en wat ek sien, dit sal ek jou vertel. En Jónatan het goed gepraat oor Dawid met sy vader Saul en vir hom gesê: Laat die koning nie sondig teen sy dienaar, teen Dawid nie; omdat hy nie teen jou gesondig het nie en omdat sy werke vir jou baie goed was. Want hy het sy lewe in sy hand gegee en die Filistyn gedood, en die HERE het 'n groot verlossing vir die hele Israel bewerk; jy het dit gesien en was bly; waarom sal jy dan sondig teen onskuldige bloed om Dawid sonder oorsaak dood te maak? En Saul het geluister na die stem van Jónatan, en Saul het gesweer: So waar as die HERE leef, hy sal nie gedood word nie. En Jónatan het Dawid geroep, en Jónatan het hom al hierdie dinge laat sien. En Jónatan het Dawid na Saul gebring, en hy was voor hom soos in die verlede. En daar was weer oorlog, en Dawid het uitgetrek en teen die Filistyne geveg en hulle met 'n groot slagting verslaan; en hulle het vir hom gevlug. En die bose gees van die HERE was oor Saul terwyl hy in sy huis sit met sy spies in sy hand, en Dawid het met sy hand gespeel. En Saul het probeer om Dawid tot by die muur met die spies te slaan; maar hy het weggeglip voor Saul se aangesig en die spies in die muur geslaan; en Dawid het gevlug en daardie nag vrygekom.
1 SAMUEL 19:1-10 Die Boodskap (DB)
Saul het vir sy seun Jonatan en al sy offisiere gesê om Dawid dood te maak. Omdat Jonatan baie erg was oor Dawid, het hy dit vir hom gaan vertel: “My pa wil jou laat doodmaak,” het hy gesê. “Jy moet môreoggend lig loop. Kry vir jou ’n veilige plek en gaan kruip weg. Ek sal self môre saam met my pa uitgaan en in die veld waar jy wegkruip, met hom oor jou praat. As ek iets agterkom, sal ek jou laat weet.” Jonatan het by Saul vir Dawid gepleit en vir hom gesê: “Pa is koning; moet tog nie ’n verkeerde ding aan Dawid doen nie. Hy is Pa se onderdaan en hy het niks verkeerds aan Pa gedoen nie. Inteendeel, wat hy gedoen het, was net tot Pa se voordeel. Hy het sy lewe gewaag om die Filistyn dood te maak, en die Here het ’n groot oorwinning vir die hele Israel gegee. Pa het dit self gesien en Pa was bly daaroor. Hoekom sou Pa dan nou sonde doen deur ’n onskuldige man soos Dawid dood te maak?” Saul het na Jonatan geluister en by die Here gesweer dat hy Dawid nie sou doodmaak nie. Jonatan het toe vir Dawid geroep en hom alles vertel. Hy het Dawid na Saul toe gevat en Dawid het weer soos voorheen vir Saul gewerk. Daar was weer oorlog met die Filistyne en Dawid het teen hulle gaan veg. Dié keer het Dawid hulle so erg aangeval dat hulle vir hom gevlug het. ’n Slegte gees het Saul toe weer beetgepak. Hy het in die paleis gesit met ’n spies in sy hand terwyl Dawid vir hom op die lier speel. Saul wou vir Dawid met die spies teen die muur vasgooi, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Dawid het weggehardloop en daardie nag van die paleis af padgegee.
1 SAMUEL 19:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Saul het sy seun Jonatan en sy amptenare aangemoedig om Dawid te vermoor. Maar omdat Jonatan en Dawid boesemvriende was, sê hy vir Dawid: “My pa wil jou doodmaak. Wees baie versigtig. Môre-oggend moet jy in die veld gaan wegkruip. Ek sal daar by my pa gaan staan en hom oor jou uitvra. Dan sal ek jou laat weet.” Jonatan het toe ’n goeie woord vir Dawid by Saul gedoen en gesê: “Die koning moenie sondig teen u onderdaan Dawid nie. Hy het niks wat sleg is teen u gedoen nie, maar net goeie dinge. Trouens, hy het sy lewe op die spel geplaas en die Filistyn doodgemaak. Daarmee het die HERE ’n groot verlossing vir die hele Israel bewerk. U het dit gesien en was saam bly. Hoekom sal u sondig en onskuldige bloed vergiet deur Dawid sonder rede dood te maak?” Saul het na Jonatan geluister. Hy het ’n eed afgelê: “So waar as die HERE leef, hy sal nie doodgemaak word nie.” Daarna roep Jonatan vir Dawid en vertel hom alles. Hy het Dawid na Saul toe gebring en Dawid was in Saul se diens soos voorheen. Daar het weer oorlog uitgebreek. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg. Die slagting was groot en die Filistyne het van hom af weggevlug. Maar die bose gees wat die HERE gestuur het, het weer oor Saul gekom. Hy het in sy huis gesit en sy spies was in sy hand terwyl Dawid op die lier gespeel het. Saul het Dawid met die spies teen die muur probeer vaspen, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Daardie nag het Dawid gevlug.