1 SAMUEL 19

19
Saul probeer Dawid weer doodmaak
1Saul het sy seun Jonatan en sy amptenare aangemoedig om Dawid te vermoor. Maar omdat Jonatan en Dawid boesemvriende was, 2sê hy vir Dawid: “My pa wil jou doodmaak. Wees baie versigtig. Môre-oggend moet jy in die veld gaan wegkruip. 3Ek sal daar by my pa gaan staan en hom oor jou uitvra. Dan sal ek jou laat weet.”
4Jonatan het toe ’n goeie woord vir Dawid by Saul gedoen en gesê: “Die koning moenie sondig teen u onderdaan Dawid nie. Hy het niks wat sleg is teen u gedoen nie, maar net goeie dinge. 5Trouens, hy het sy lewe op die spel geplaas en die Filistyn doodgemaak. Daarmee het die Here ’n groot verlossing vir die hele Israel bewerk. U het dit gesien en was saam bly. Hoekom sal u sondig en onskuldige bloed vergiet deur Dawid sonder rede dood te maak?”
6Saul het na Jonatan geluister. Hy het ’n eed afgelê: “So waar as die Here leef, hy sal nie doodgemaak word nie.” 7Daarna roep Jonatan vir Dawid en vertel hom alles. Hy het Dawid na Saul toe gebring en Dawid was in Saul se diens soos voorheen.
8Daar het weer oorlog uitgebreek. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg. Die slagting was groot en die Filistyne het van hom af weggevlug.
9Maar die bose gees wat die Here gestuur het, het weer oor Saul gekom. Hy het in sy huis gesit en sy spies was in sy hand terwyl Dawid op die lier gespeel het. 10Saul het Dawid met die spies teen die muur probeer vaspen, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Daardie nag het Dawid gevlug.
Mikal red Dawid se lewe
11Saul stuur toe soldate om wag te hou oor Dawid se huis en hom in die oggend dood te maak. Maar Dawid se vrou Mikal waarsku hom: “As jy nie vannag nog vlug nie, sal jy môre sekerlik doodgemaak word.” 12Mikal het Dawid deur ’n venster laat afsak sodat hy kon wegkom en vlug. 13Daarna neem sy ’n huisgod#19:13 Grondteks terafim., laat lê dit op die bed met bokhaar by die kop en gooi dit toe met ’n kombers. 14Toe die soldate kom om Dawid te vang, sê sy: “Hy is siek.”
15“Bring hom dan met bed en al sodat hy doodgemaak kan word,” sê Saul. 16Die soldate het ingekom, en daar kry hulle ’n huisgod op die bed met bokhaar by die koppenent!
17Saul sê vir Mikal: “Hoekom het jy my bedrieg deur my vyand te laat ontsnap?”
Mikal antwoord: “Ek moes, want hy het gedreig om my dood te maak as ek hom nie help nie.”
18Dawid het gevlug en by Samuel in Rama aangekom. Hy het hom alles vertel wat Saul aan hom gedoen het. Samuel en Dawid het toe in die profetekwartiere gaan woon. 19Dis aan Saul vertel: “Dawid is in die profetekwartiere in Rama!” 20Toe stuur Saul van sy mense om Dawid gevange te neem. Daar aangekom, sien hulle die groep mense wat met Samuel as leier soos profete optree. Die Gees van God kom toe oor Saul se boodskappers en hulle het self soos profete begin optree. 21Dit is aan Saul meegedeel sodat hy ander boodskappers gestuur het. Hulle het egter ook soos profete opgetree. Saul het weer mense gestuur, maar dieselfde het ook met hulle gebeur. 22Toe gaan hy self na Rama toe. By die groot opgaardam in Seku aangekom, vra hy: “Waar is Samuel en Dawid?”
“Hulle is in die profetekwartiere in Rama,” was die antwoord. 23Op pad daarheen het die Gees van God oor Saul gekom sodat hy tot in Rama soos ’n profeet opgetree het. 24Hy het selfs sy klere uitgetrek terwyl hy soos ’n profeet voor Samuel opgetree het. Die hele dag en nag het hy daar sonder klere gelê sodat die mense gevra het: “Wat, is Saul ook tussen die profete?”

Tans Gekies:

1 SAMUEL 19: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid