1 SAMUEL 12:14-25 - Compare All Versions

1 SAMUEL 12:14-25 AFR83 (Afrikaans 1983)

As julle eerbied aan die Here betoon, Hom dien en na sy stem luister en julle ook nie verset teen die bevel van die Here nie, julle sowel as die koning wat oor julle regeer, sal die Here julle God by julle wees. As julle nie na die stem van die Here luister nie en ongehoorsaam is aan die bevel van die Here, sal die Here teen julle wees, soos teen julle voorvaders. “Staan nog net 'n rukkie en let op hierdie groot ding wat die Here voor julle oë gaan doen. Hoewel dit nou nie reëntyd is nie, gaan ek die Here aanroep sodat Hy donderslae en 'n stortreën gee. Kyk daarna en besef dan dat julle in die oë van die Here 'n baie verkeerde ding gedoen het deur vir julle 'n koning te vra.” Samuel het die Here aangeroep, en die Here het op dieselfde dag donderslae en 'n stortreën gegee, en die hele volk het groot ontsag gekry vir die Here, en ook vir Samuel. Die hele volk het vir Samuel gesê: “Bid tot die Here u God vir ons sodat ons nie sterwe nie, want by al ons sondes het ons nog boonop 'n verkeerde ding gedoen deur vir ons 'n koning te vra.” Samuel sê toe vir die volk: “Moenie bang wees nie, julle het nou wel hierdie verkeerde dinge gedoen, maar moet nou net nie van die Here af wegdraai nie. Dien die Here met julle hele hart. Moenie agter afgode aan wegdraai nie. Hulle kan nie help of red nie, want hulle is niks. Ter wille van sy groot Naam sal die Here nie sy volk prysgee nie. Die Here het besluit om julle sy volk te maak. Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle aanhou onderrig in die goeie en reguit pad. Wees net gehoorsaam aan die Here en dien Hom opreg en met julle hele hart. Let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. Maar as julle opsetlik verkeerd doen, sal julle sowel as julle koning uitgewis word.”

1 SAMUEL 12:14-25 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

As julle maar die HERE vrees en Hom dien en na sy stem luister en nie wederstrewig is teen die mond van die HERE nie en julle self sowel as die koning wat oor julle regeer, die HERE julle God maar volg! Maar as julle nie na die stem van die HERE luister nie en wederstrewig is teen die mond van die HERE, dan sal die hand van die HERE teen julle wees soos teen julle vaders. Gaan dus staan, en kyk na hierdie groot saak wat die HERE voor julle oë gaan doen. Is dit nie koringoestyd vandag nie? Ek sal die HERE aanroep, dat Hy donderslae en reën gee: weet dan en sien dit in dat julle kwaad groot is wat julle in die oë van die HERE gedoen het deur 'n koning vir julle te begeer. Toe het Samuel die HERE aangeroep, en die HERE het donderslae en reën op dié dag gegee, sodat die hele volk baie bevrees geword het vir die HERE en vir Samuel. Daarom het die hele volk vir Samuel gesê: Bid tot die HERE u God vir u knegte, dat ons nie sterf nie, omdat ons by al ons sondes nog kwaad gedoen het deur 'n koning vir ons te begeer. Toe sê Samuel vir die volk: Wees nie bevrees nie. Julle het al hierdie kwaad gedoen; maar wyk nie van die HERE af nie, en dien die HERE met julle hele hart. En julle mag nie afwyk nie, want dan gaan julle agter nietige afgode aan wat nie kan help of red nie, omdat hulle nietighede is. Want die HERE sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie verwerp nie, omdat dit die HERE behaag het om van julle vir Hom 'n volk te maak. Ook wat my betref, dit is ver van my dat ek teen die HERE sou sondig, dat ek sou ophou om vir julle te bid; maar ek sal julle in die goeie en regte weg onderrig. Vrees net die HERE en dien Hom getrou met julle hele hart; want kyk watter groot dinge Hy by julle gedoen het. Maar as julle ooit verkeerd handel, sal julle self sowel as julle koning omkom.

1 SAMUEL 12:14-25 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“As julle nou die HERE dien, aanbid en na Hom luister; en as julle nie teen die HERE se voorskrifte in opstand kom nie; as julle en julle koning die HERE julle God navolg, dan sal alles met julle goed gaan. Maar as julle teen die bevele van die HERE in opstand kom en weier om Hom gehoorsaam te wees, dan sal die HERE teen julle draai soos destyds met julle voorouers. “Staan ’n bietjie stil en aanskou die groot ding wat die HERE gaan laat gebeur. Julle weet dit reën nie hierdie tyd van die jaar wanneer die koring geoes word nie. Ek sal die HERE vra om vandag donderweer en reën te stuur. Dan sal julle besef dat julle gesondig het deur vir die HERE ’n koning te vra!” Toe roep Samuel die HERE aan en die HERE het donderweer en reën gestuur. Almal was met ontsag gevul vir die HERE en vir Samuel. “Bid tog tot die HERE u God ter wille van ons, anders sal ons sterf!” smeek hulle vir Samuel. “Ons het nou nog toegevoeg tot ons sondes deur vir ’n koning te vra.” “Moenie bang wees nie,” stel Samuel hulle gerus. “Julle het gewis verkeerd gedoen, maar maak nou seker dat julle die HERE met volle toewyding aanbid en dat julle nie op enige wyse julle rug op Hom draai nie. Moenie weer die nuttelose beelde aanbid nie. Hulle kan julle nie help of verlos nie. Hulle is totaal nutteloos! Ter wille van sy grote Naam sal die HERE nie sy volk verlaat nie. Hy het julle ’n besondere volk vir Homself gemaak. “Wat my betref, ek sal sekerlik nie teen die HERE sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal ook voortgaan om julle te leer wat goed en reg is. Maar dien die HERE in opregtheid. Dink aan al die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. Maar as julle voortgaan om te sondig, sal julle en julle koning uitgewis word.”

1 SAMUEL 12:14-25 DB (Die Boodskap)

“As julle respek het vir die Here, Hom dien en na Hom luister en nie teen sy bevele in opstand is nie; as julle én die koning wat oor julle regeer, die Here volg, sal Hy julle God wees. Maar as julle nie na Hom luister nie en teen sy bevele in opstand is, sal die Here julle laat swaarkry soos Hy met julle voorouers gemaak het. “Maar wag, die saak is nog nie afgehandel nie! Kyk self watter groot wonder gaan die Here voor julle oë doen: dis mos tyd om die koring te oes. Ek gaan die Here vra om ’n donderstorm en ’n reënbui te laat kom, dan sal julle moet erken en insien dat julle ’n baie verkeerde ding teen die Here gedoen het toe julle vir julleself ’n koning gevra het.” Toe Samuel na die Here roep, het die Here daardie dag ’n donderstorm laat losbreek. Al die mense het groot respek gehad vir die Here en vir Samuel. Almal sê toe vir Samuel: “Pleit asseblief vir ons by die Here u God dat ons nie sterf nie; want by alles wat ons verkeerd gedoen het, het ons nog die verskriklike ding gedoen om ’n koning te vra.” Samuel het vir die mense gesê: “Moenie paniekerig raak nie. Julle het wel al hierdie verkeerde dinge gedoen, maar moet net nie die rug vir die Here draai nie. Dien Hom met hart en siel. Julle moet nooit hulp soek by daardie hopelose spul afgode nie. Hulle kan niks doen nie. Hulle kan nie help nie, want hulle ís niks. “Die Here sal, omdat Hy ’n goeie Naam het, nie sy mense in die steek laat nie. Ja, Hy het vas besluit dat julle sy volk sal wees. Wat my betref: daar bestaan nie ’n moontlikheid dat ek sal ophou om vir julle by die Here te pleit nie. As ek dit sou doen, sondig ek teen Hom. Ek sal ook nie ophou om vir julle die goeie, reguit pad te wys nie. Onthou, julle moet respek hê vir die Here. Julle het self gesien watter groot dinge Hy vir julle gedoen het. Daarom moet julle Hom getrou en met oorgawe dien. Maar as julle aanhou verkeerde dinge doen, is dit klaarpraat met julle én julle koning.”

1 SAMUEL 12:14-25 ABA (Bybel vir almal)

Dit sal goed gaan met julle as julle die Here respekteer en dien en doen wat Hy wil hê, as julle nie opstandig is teen wat Hy vir julle sê nie, en as julle altyd julle God die Here volg, julle en julle koning wat oor julle regeer. Maar as julle nie doen wat die Here wil hê nie en as julle opstandig is teen wat Hy vir julle sê, dan sal Hy teen julle wees soos Hy teen julle voorvaders was. Maar nou moet julle hier kom staan sodat julle self kan sien watter groot ding die Here sal doen. Dit is nou die tyd om die koring af te sny, dit is nie reëntyd nie. Maar ek sal tot die Here bid, en Hy sal donderweer en reën stuur, sodat julle sal weet en sien dat julle 'n baie verkeerde ding gedoen het teen die Here toe julle gesê het julle wil 'n koning hê.” Samuel het tot die Here gebid, en die Here het daardie dag donderweer en reën gestuur. Die hele volk het baie bang geword vir die Here en vir Samuel. Al die mense het vir Samuel gesê: “Jy moet tot jou God die Here bid en vra dat ons nie sal sterf nie, want ons het baie sondes gedoen, en nou het ons ook nog hierdie verkeerde ding gedoen om 'n koning te vra.” Samuel het vir die volk gesê: “Julle moenie bekommerd wees nie. Julle het ál hierdie verkeerde dinge gedoen, maar julle moenie weggaan van die Here nie, julle moet Hom dien met julle hele hart. Julle moenie weggaan van Hom nie, want dan gaan julle na die afgode toe wat niks beteken nie en wat nie kan help en red nie. Want die Here sal nie sy volk los nie, Hy wil hê dat almal moet weet dat Hy die Groot God is. Ja, Hy het besluit dat julle sy volk moet wees. En ek, julle moenie dink dat ek sonde sal doen teen die Here nie, ek sal nie ophou om vir julle te bid nie, ek sal vir julle leer om reg te lewe. Maar dan moet julle die Here eer en julle moet Hom waarlik dien met julle hele hart, en julle moet onthou dat Hy groot dinge gedoen het vir julle. Maar as julle aanhou om verkeerde dinge te doen, dan sal die Here julle én julle koning wegvee.”

1 SAMUEL 12:14-25 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

As julle ontsag sal hê vir die HERE, Hom sal dien, na sy stem sal luister en nie teen die bevel van die HERE in opstand kom nie, en as julle, en ook die koning wat oor julle regeer, die HERE julle God altyd sal volg – dan is dit goed. As julle egter nie na die stem van die HERE luister nie en in opstand kom teen die bevel van die HERE, sal die hand van die HERE teen julle en teen julle koning wees. “ Staan dan nou ook gereed en aanskou hierdie groot daad wat die HERE voor julle oë gaan verrig. Is dit nie die tyd van die koringoes nie? Ek sal die HERE aanroep, sodat Hy donderslae en reën beskik. Besef dan en sien in dat julle boosheid groot is – dit wat julle in die oë van die HERE gedoen het deur 'n koning vir julle te vra. ” Toe het Samuel die HERE aangeroep, en die HERE het nog dieselfde dag donderslae en reën beskik. Die hele volk het groot ontsag gehad vir die HERE en vir Samuel. Die hele volk sê toe vir Samuel: “Bid tot die HERE u God ter wille van u dienaars, sodat ons nie sterf nie; want by al ons sondes het ons nog die kwaad bygevoeg om 'n koning vir ons te vra.” Samuel het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Julle het wel al hierdie kwaad gedoen, maar moet net nie van die HERE af wegdraai nie. Dien die HERE met julle hele hart. Julle mag nie wegdraai nie, ja, nie agter nietige afgode aan wat geen voordeel kan bied of kan red nie, omdat hulle nietighede is. Want die HERE sal sy volk nie in die steek laat nie, ter wille van sy groot Naam. Die HERE het immers besluit om julle sy volk te maak. “Ook wat my betref – nooit sal ek teen die HERE sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle die goeie en reguit pad leer. Maar julle moet net vir die HERE ontsag hê en Hom in getrouheid dien met julle hele hart. Ja, let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. As julle egter aanhou verkeerd optree, sal julle self en ook julle koning weggevee word.”

1 SAMUEL 12:14-25 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

As julle die HERE vrees en Hom dien en na sy stem luister en nie in opstand kom teen die bevel van die HERE nie, dan moet julle sowel as die koning wat oor julle regeer, die HERE julle God volg. Maar as julle nie na die stem van die HERE luister nie, maar teen die bevel van die HERE in opstand kom, dan sal die hand van die HERE teen julle wees soos teen julle vaders. Staan dan nou en aanskou hierdie groot ding wat die HERE voor julle oë sal doen. Is dit nie vandag koringoes nie? Ek sal die HERE aanroep, en Hy sal donderweer en reën gee; sodat julle kan sien en sien dat julle boosheid groot is wat julle gedoen het in die oë van die HERE deur vir julle 'n koning te vra. Toe het Samuel die HERE aangeroep; en die HERE het daardie dag donder en reën gestuur, en die hele volk was baie bang vir die HERE en vir Samuel. Toe sê die hele volk vir Samuel: Bid vir u dienaars tot die HERE u God, dat ons nie sterwe nie; want ons het hierdie onheil by al ons sondes bygevoeg om vir ons 'n koning te vra. Toe sê Samuel aan die volk: Wees nie bevrees nie, julle het al hierdie boosheid gedoen; En wyk julle nie af nie; want hulle is ydel. Want die HERE sal sy volk nie verlaat ter wille van sy grote Naam nie, omdat dit die HERE behaag het om julle sy volk te maak. En wat my betref, mag God verhoed dat ek teen die HERE sou sondig deur op te hou om vir julle te bid; maar ek sal julle die goeie en die regte weg leer. Vrees net die HERE en dien Hom in waarheid met julle hele hart; want let op watter groot dinge Hy aan julle gedoen het. Maar as julle nog steeds goddeloos handel, sal julle vernietig word, julle sowel as julle koning.