1 Samuel 12

12
Samuel se afskeidsboodskap
1Samuel het vir die hele Israel gesê: “Kyk, ek het geluister na alles wat julle vir my gevra het, en ek het 'n koning oor julle aangestel. 2Hier is dan nou die koning wat voor julle uit sal loop. Ek het oud en grys geword, maar my seuns is nog hier by julle.
“Ek is die een wat van my jeug af tot vandag toe voor julle uit geloop het. 3 Hier is ek – bring getuienis teen my in voor die Here en voor sy gesalfde. Wie se bees het ek gevat? Wie se donkie het ek gevat? Wie het ek uitgebuit? Wie het ek mishandel? Uit wie se hand het ek 'n omkoopgeskenk aanvaar en so my oë gesluit? Ek sal dit aan julle teruggee.” 4Hulle het gesê: “U het ons nie uitgebuit nie en ons nie mishandel nie. U het nie uit enigiemand se hand iets gevat nie.”
5Hy sê toe vir hulle: “Die Here is 'n getuie teen julle, en sy gesalfde is op hierdie dag 'n getuie, dat julle niks in my hand gevind het nie.” “Hy is getuie,” het hulle gesê.
6Toe sê Samuel vir die volk: “Die Here is die Een wat Moses en Aäron aangewys het en julle voorouers uit Egipteland laat optrek het. 7Staan dan nou gereed, sodat ek voor die Here met julle die saak kan uitmaak oor al die weldade van die Here wat Hy aan julle en julle voorouers bewys het: 8Nadat Jakob in Egipte aangekom het, het julle voorouers na die Here om hulp geroep. Die Here het Moses en Aäron gestuur, en hulle het julle voorouers uit Egipte laat wegtrek en hulle op hierdie plek laat woon. 9Hulle het egter die Here hulle God vergeet, en Hy het hulle oorgelewer in die hand van Sisera, die bevelvoerder van die leër van Gasor, en in die hand van die Filistyne en in die hand van die koning van Moab. Toe hulle teen julle voorouers oorlog gevoer het, 10het hulle na die Here om hulp geroep en gesê, ‘Ons het gesondig, want ons het die Here verlaat en die Baäls en Astartes gedien. Red ons nou uit die hand van ons vyande, dan sal ons U dien.’ 11Die Here het Jerubbaäl, Bedan, Jefta en Samuel gestuur, en Hy het julle gered uit die hand van julle vyande aan alle kante, en julle het veilig gewoon.
12“Maar toe julle sien dat Nagas, die koning van die Ammoniete, teen julle optrek, het julle vir my gesê, ‘Nee, maar 'n koning moet oor ons regeer!’ – en dit terwyl die Here julle God julle koning is. 13Hier is dan nou die koning wat julle verkies het, waarvoor julle gevra het.
“Kyk, die Here het vir julle 'n koning gegee. 14As julle ontsag sal hê vir die Here, Hom sal dien, na sy stem sal luister en nie teen die bevel van die Here in opstand kom nie, en as julle, en ook die koning wat oor julle regeer, die Here julle God altyd sal volg – dan is dit goed. 15As julle egter nie na die stem van die Here luister nie en in opstand kom teen die bevel van die Here, sal die hand van die Here teen julle en teen julle koning wees.
16“ Staan dan nou ook gereed en aanskou hierdie groot daad wat die Here voor julle oë gaan verrig. 17Is dit nie die tyd van die koringoes nie? Ek sal die Here aanroep, sodat Hy donderslae en reën beskik. Besef dan en sien in dat julle boosheid groot is – dit wat julle in die oë van die Here gedoen het deur 'n koning vir julle te vra. ”
18Toe het Samuel die Here aangeroep, en die Here het nog dieselfde dag donderslae en reën beskik. Die hele volk het groot ontsag gehad vir die Here en vir Samuel. 19Die hele volk sê toe vir Samuel: “Bid tot die Here u God ter wille van u dienaars, sodat ons nie sterf nie; want by al ons sondes het ons nog die kwaad bygevoeg om 'n koning vir ons te vra.”
20Samuel het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Julle het wel al hierdie kwaad gedoen, maar moet net nie van die Here af wegdraai nie. Dien die Here met julle hele hart. 21Julle mag nie wegdraai nie, ja, nie agter nietige afgode aan wat geen voordeel kan bied of kan red nie, omdat hulle nietighede is. 22 Want die Here sal sy volk nie in die steek laat nie, ter wille van sy groot Naam. Die Here het immers besluit om julle sy volk te maak.
23“Ook wat my betref – nooit sal ek teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle die goeie en reguit pad leer. 24Maar julle moet net vir die Here ontsag hê en Hom in getrouheid dien met julle hele hart. Ja, let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. 25As julle egter aanhou verkeerd optree, sal julle self en ook julle koning weggevee word.”

Tans Gekies:

1 Samuel 12: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid