1 SAMUEL 1:1-3
1 SAMUEL 1:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n man van die stad Ramatajim in die Efraim-berge. Hy was van die nageslag van Suf, en sy naam was Elkana. Elkana was die seun van Jerogam, Jerogam was die seun van Elihu, Elihu was die seun van Togu, en Togu was die seun van Suf, van die land Efrat. Elkana het twee vroue gehad. Die naam van die een vrou was Hanna en die naam van die ander vrou was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna het nie kinders gehad nie. Elkana het elke jaar van sy stad Ramatajim na die stad Silo gegaan om daar te bid en te offer vir die Here wat oor alles regeer. Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli, was in Silo priesters van die Here.
1 SAMUEL 1:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAR was 'n sekere man uit Ramatáim, 'n Sufiet, uit die gebergte van Efraim, en sy naam was Élkana, die seun van Jeróham, die seun van Elíhu, die seun van Tohu, die seun van Suf, 'n Efratiet. En hy het twee vroue gehad; die naam van die een was Hanna, en die naam van die tweede was Peninna; en Peninna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie. En dié man het van jaar tot jaar opgegaan uit sy stad om te aanbid en aan die HERE van die leërskare te offer in Silo, waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, priesters van die HERE was.
1 SAMUEL 1:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar was 'n man uit Ramatajim, 'n Suffiet uit die Efraimsberge. Hy was Elkana seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf uit Efrata. Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna en die ander s'n Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie. Elkana het elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, was in Silo priesters van die Here.
1 SAMUEL 1:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar was 'n sekere man uit Ramatajim Sofim, in die heuwelland van Efraim. Sy naam was Elkana, seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf, uit Efraim. Hy het twee vroue gehad. Die eerste vrou se naam was Hanna en die tweede vrou se naam was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie. Hierdie man het jaar ná jaar uit sy dorp opgegaan om te aanbid en vir die HERE, Heerser oor alle magte, offers te bring in Silo, waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, priesters van die HERE was.
1 SAMUEL 1:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar was 'n sekere man van Ramataimsofim, van die gebergte van Efraim, en sy naam was Elkana, die seun van Jeróham, die seun van Elihu, die seun van Tohu, die seun van Suf, 'n Efratiet. En hy het twee vroue gehad; die naam van die een was Hanna en die naam van die ander Peninna; en Peninna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie. En hierdie man het jaarliks uit sy stad opgetrek om te aanbid en te offer aan die HERE van die leërskare in Silo. En die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, die priesters van die HERE, was daar.
1 SAMUEL 1:1-3 Die Boodskap (DB)
Daar was eenkeer ’n man met die naam Elkana. Hy het in Ramatajim in die Efraimsberge gebly. Sy pa se naam was Jerogam; sy oupa was Elihu en sy oupagrootjie was Tohu. Hulle was van Suf se familie wat van Efrata af gekom het. Elkana het twee vroue gehad. Die een met wie hy eerste getroud is se naam was Hanna. Die ander vrou se naam was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie. Elkana het gereeld een keer ’n jaar met sy vroue en kinders na die tempel in Silo gegaan om voor die magtige Here te kniel en vir Hom te offer. Eli en sy twee seuns, Hofni en Pinehas, was die Here se priesters in Silo.
1 SAMUEL 1:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In Rama, in die heuwelgebied van Efraim, het daar ’n Suffiet gewoon met die naam Elkana. Hy was die seun van Jerogam en die kleinseun van Elihu uit die familie van Togu, van die familiegroep van Suf, uit Efrata. Hy het twee vroue gehad, Hanna en Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna was kinderloos. Elke jaar het Elkana en sy gesin na Silo toe gegaan om daar te aanbid en offers vir die HERE, die Almagtige, te bring. Die priesters van die HERE daar was Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli.