1 PETRUS 2:5-9 - Compare All Versions

1 PETRUS 2:5-9 ABA (Bybel vir almal)

Julle is ook soos klippe wat lewe, julle moet bid dat God sy Gees sal gebruik om sy huis te bou met julle. Dan kan julle gewyde priesters wees om offers vir God te bring. Dit is Jesus Christus wat vir julle help om te offer soos die Gees wil hê, sodat God van hierdie offers sal hou. Want ons lees in die Ou Testament: Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer, dit is 'n hoek-klip wat Ek gekies het en wat baie kosbaar is. Die mense wat in Hom glo, sal veilig wees. Daarom, julle wat in Jesus Christus glo, sal ook vir Hom baie kosbaar wees. Maar daar is mense wat nie in Hom glo nie. Vir hulle is dit waar wat in die Ou Testament geskryf is: Die klip wat die bouers nie wou gebruik nie, daardie klip het die belangrikste klip in die gebou geword. Daar is ook geskryf: Hy is 'n klip waarteen hulle stamp, 'n rots waaroor hulle val. Hulle val oor die rots omdat hulle nie geglo het wat God gesê het nie. Dit was God se plan dat dit met hulle moet gebeur. Maar julle is God se volk, God het vir julle gekies, julle is die priesters oor wie Hy regeer, julle is 'n gewyde volk, sy eie volk wat vir almal moet vertel van die groot dinge wat God gedoen het. Hy het vir julle geroep om uit die donker na Hom toe te kom, na Hom wat in die wonderlike lig is.

1 PETRUS 2:5-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword; en: 'n Steen van aanstoot en 'n rots van struikeling — vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is. Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig

1 PETRUS 2:5-9 AFR83 (Afrikaans 1983)

Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion 'n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword” en: “'n klip waaroor 'n mens struikel en 'n rots waarteen jy jou stamp.” Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem. Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

1 PETRUS 2:5-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

en laat julle as lewende klippe opbou tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. Daar staan immers in die Skrif: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer, 'n hoeksteen, uitverkore en kosbaar; maar wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie.” Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld, “Juis die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword, ” en “'n klip waaroor 'n mens kan struikel, ja, 'n rots wat jou kan laat val.” Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem. Julle, egter, is “'n uitverkore geslag”, “'n koninklike priesterdom”, “'n heilige nasie”, “'n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig

1 PETRUS 2:5-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Ook word julle, soos lewendige klippe, opgebou tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat vir God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom is dit ook vervat in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore, kosbare hoeksteen, en hy wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar, maar vir die ongehoorsames word die steen wat die bouers verbied het, dit die hoof van die hoek gemaak, En 'n klip van aanstoot en 'n rots van struikeling, vir die wat deur die woord struikel, omdat hulle ongehoorsaam is, waartoe hulle ook bestem is. Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige nasie, 'n eiendomsvolk; dat julle die lof kan verkondig van Hom wat julle uit die duisternis na sy wonderbare lig geroep het.

1 PETRUS 2:5-9 DB (Die Boodskap)

Julle moet ook sulke goeie, lewende stene wees sodat God julle in die geestelike huis kan inbou. Dit is maar ’n ander manier om te sê dat julle mense moet wees wat die Here elke oomblik van julle lewe dien. So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel. Doen en gee vir die Here dit waarvan Hy hou, want Jesus maak dit vir julle moontlik. Ons lees in die Skrif dat God lank gelede al gesê het: “Kyk mooi, in Sion bou Ek ’n steen in. Ek self het die steen gekies en dit op die belangrikste plek in die hele gebou gesit. Iemand wat op dié steen vertrou, sal nooit daaroor jammer hoef te wees nie.” As jy op Jesus vertrou, deel jy in hierdie eer van Hom. Vir hulle wat hulle nie aan Hom steur nie, sê die Skrif: “Die steen wat die bouers nie wou hê nie, juis daardie steen het die belangrikste steen in die hele gebou geword.” En: “Hy is soos ’n klip waaroor ’n mens val en soos ’n rots waarteen jy vasloop en val.” Hulle struikel en val, omdat hulle hulle nie aan God se woorde steur nie. Dit kan ’n mens ook van hulle verwag. God het vooraf geweet en besluit dat dit so sou wees. Van julle is net die teenoorgestelde egter waar. God het julle in die besonder vir Hom gekies. Julle is die mense wat Hy aangestel het sodat die groot Koning, God, op ’n besondere manier en reg gedien kan word. God self het julle sy besondere mense gemaak. Julle behoort aan Hom en aan Hom alleen. Daarom moet julle die groot en goeie dinge wat Hy vir julle gedoen het, aan almal vertel. Uit die donker van julle sondes het Hy julle geroep om na die helder lig te kom waar Hy is.

1 PETRUS 2:5-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Laat julle as lewende klippe inbou in God se geestelike tempel. Julle taak as tempel is om heilige priesters te wees wat geestelike offers bring. God aanvaar hierdie offers juis omdat Jesus Christus die hoekklip is. Soos dit in die Skrif staan: “Ek lê in Sion ’n hoekklip, uitgekies vir dié ereplek. Elkeen wat op Hom vertrou, sal nóóit verneder word nie.” Hierdie eer is dus bedoel vir julle wat glo. Vir dié wat egter nie glo nie, geld die volgende woorde: “Juis daardie klip wat deur die bouers afgekeur is, het die sluitklip van die gebou geword.” Die volgende Skrifdeel geld ook vir dié wat nie glo nie: “Hy is ’n klip waaroor mense struikel, ’n rots wat jou laat val.” Hulle struikel omdat hulle nie aan God se woord gehoorsaam is nie. Hulle was vir hierdie struikeling bestem. Dit geld egter nie vir julle nie, want God het júlle as sy volk gekies. Julle is ’n koninkryk wat uit priesters bestaan, ’n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ’n volk wat heeltemal God s’n is. Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het.