1 KONINGS 6:1-38

1 KONINGS 6:1-38 Bybel vir almal (ABA)

Salomo het die tempel gebou in die 480ste jaar nadat die Israeliete uit Egipte gekom het. Dit was in die vierde jaar nadat Salomo koning geword het, in die maand Sif, dit is die tweede maand. Die tempel wat Salomo vir die Here gebou het, was 60 el lank, 20 el breed en 30 el hoog. Die voorportaal by die voorkant van die tempelgebou was 20 el lank en tien el breed. Die voorportaal was so lank soos wat die tempel breed was. Salomo het vensters in die mure van die tempel gesit. 'n Mens kon die vensters toemaak. Hy het nog 'n gebou teen die buitemuur van die tempel gebou. Dit was rondom die voorste en die binneste kamers en dit was drie verdiepings hoog. Die onderste verdieping was vyf el breed, die middelste verdieping was ses el breed en die boonste verdieping was sewe el breed. Hy het dit so gebou omdat hy hierdie gebou se muur téén die muur van die tempel gebou het, hy het dit nie ín die tempelmuur vasgebou nie. Hulle het die tempel gebou van klip wat hulle klaar gekap het. 'n Mens het nie hamers en beitels en ander yster-gereedskap gehoor raas toe hulle die tempel gebou het nie. Die deur na die onderste verdieping was langs die kant van die tempel, by die suidekant, en daar was trappe na die middelste en boonste verdiepings. Salomo het die tempel klaar gebou en hy het 'n dak opgesit. Die dak was van rye dik sederhout pale. Elke verdieping van die gebou wat hy teen die tempel gebou het, was vyf el hoog, en die vloere en die dak was van sederhout pale wat op die muur teen die tempel gelê het. Die Here het met Salomo gepraat en gesê: “Jy bou nou die tempel. As jy lewe soos Ek in my wette sê en as jy doen wat Ek wil hê, dan sal Ek met jou doen wat Ek vir jou pa Dawid belowe het. Ek sal by die Israeliete woon en Ek sal nie weggaan van hulle nie.” Salomo het die tempel gebou en hy het dit klaargemaak. Hy het die mure binne-in die tempel met sederhout planke toegemaak. Die planke was van die vloer tot teen die dak, en hy het die vloer van sipreshout planke gemaak. Agter in die tempel het hy 'n muur van sederhout planke gebou. Die muur was van die vloer tot teen die dak, en agter die muur was 'n kamer wat 20 el lank was. Dit was die binneste kamer, die hoog-gewyde kamer. Die voorste kamer van die tempel was 40 el lank. Salomo het bitterappels en blomme laat uitsny op die mure van die tempel se binnekant. Alles was van sederhout, 'n mens kon nie die klip van die mure sien nie. Hy het die binneste kamer in die tempel gereedgemaak om die verbondskis van die Here daar te sit. Die binneste kamer was 20 el lank en 20 el breed en 20 el hoog, en Salomo het die mure laat toemaak met dun goudplate. Hy het die altaar voor die binneste kamer van sederhout laat maak. Hy het die mure van die tempel se binnekant laat toemaak met dun goudplate en hy het goue kettings voor die binneste kamer laat hang. Hy het die hele tempel se binnekant met goud laat toemaak, die hele tempel en die altaar voor die binneste kamer. Hy het twee gerubs van olyfhout in die binneste kamer gesit. Elke gerub was tien el hoog. Elke vlerk van 'n gerub was vyf el lank. Dit was tien el van die punt van een vlerk tot by die punt van die ander vlerk. Die twee gerubs was ewe groot en hulle het dieselfde gelyk. Elke gerub was tien el hoog. Salomo het die twee gerubs in die binneste kamer gesit. Hulle vlerke was oop, die punt van een gerub se vlerk het aan die een muur geraak, en die ander gerub se vlerk het aan die ander muur geraak. In die middel van die kamer het die gerubs se ander vlerke aan mekaar geraak. Hy het die gerubs met goud laat toemaak. Salomo het gerubs, palmbome en blomme laat uitsny op al die mure van die tempel, in die voorste kamer en in die binneste kamer. Hy het ook die vloere van die voorste kamer en die binneste kamer met goud laat toemaak. Hy het twee deure van olyfhout vir die binneste kamer laat maak. Die rame van die deure het vyf hoeke gehad. Hy het gerubs, palmbome en blomme laat uitsny op die twee deure en hy het dit alles met goud toegemaak. Hy het dieselfde gedoen met die deur van die voorste kamer, maar die raam van die deur het vier hoeke gehad. Die raam was van olyfhout. Die twee deure was van sipreshout en dit was swaaideure. Hy het gerubs, palmbome en blomme op die deure laat uitsny en hy het dit alles met goud toegemaak. Rondom die binneste oop stuk grond voor die tempel het hy 'n muur gebou. In die muur was drie rye gekapte klip en een ry sederhout opmekaar. Hulle het die onderste klippe van die tempelmure op hulle plekke neergesit in die vierde jaar, in die maand Sif, en die tempel en alles daarby was klaar in die elfde jaar, in die maand Bul, die agste maand. Salomo het sewe jaar lank gebou, en toe was die tempel klaar.

1 KONINGS 6:1-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in die vierhonderd-en-tagtigste jaar ná die uittog van die kinders van Israel uit Egipteland, in die vierde jaar van Salomo se regering oor Israel, in die maand Sif — dit is die tweede maand — het hy die huis vir die HERE gebou. En die huis wat koning Salomo vir die HERE gebou het, was sestig el in sy lengte en twintig in sy breedte en dertig el in sy hoogte. En die voorportaal, aan die voorkant van die hoofvertrek van die huis, was twintig el in sy lengte, oor die breedte van die huis; tien el in sy breedte aan die voorkant van die huis. En hy het aan die huis vensters gemaak met smal latwerk. En teen die muur van die huis het hy rondom 'n aanbousel opgetrek, aan die mure van die huis rondom die hoofvertrek en die binneste vertrek, en hy het dit rondom in verdiepings gemaak. Die onderste verdieping was vyf el in sy breedte en die middelste ses el in sy breedte en die derde sewe el in sy breedte; want hy het vir die huis rondom buitekant inkortings gemaak, om nie in die mure van die huis in te las nie. En toe die huis gebou is, is dit opgetrek van klippe, kant en klaar uit die breekplek: hamers en koubeitels, enige ystergereedskap, is nie gehoor by die huis toe dit gebou is nie. Die ingang van die onderste verdieping was aan die suidelike sykant van die huis, en wenteltrappe het opgegaan na die middelste, en van die middelste na die derde. En toe hy die huis klaar gebou het, het hy die huis oordek, by wyse van vakke en rye, met sederhout. En hy het die aanbousel teen die hele huis gebou; vyf el was elke verdieping hoog; en hy het dit aan die huis bevestig met sederbalke. En die woord van die HERE het tot Salomo gekom en gesê: Wat hierdie huis betref, wat jy besig is om te bou — as jy wandel in my insettinge en my verordeninge uitvoer en al my gebooie onderhou om daarin te wandel, dan sal Ek my woord wat Ek tot jou vader Dawid gespreek het, aan jou vervul; dan sal Ek onder die kinders van Israel woon en my volk Israel nie verlaat nie. Toe Salomo die huis klaar gebou het, het hy die mure van die huis van binne bedek met sederplanke; van die vloer van die huis af tot by die balke van die plafon het hy dit van binne met hout belê, en die vloer van die huis het hy met sipresplanke belê. Verder het hy die twintig el van die agterkant van die huis met sederplanke bedek, van die vloer af tot by die balke, en dit aan die binnekant as 'n binneste vertrek, as 'n Allerheiligste, gebou. En vooraan was die huis, dit is die hoofvertrek, veertig el. En sederhout was aan die huis binnekant: snywerk van kolokwinte en oop blomknoppe, dit alles van sederhout; geen klip was daar te sien nie. So het hy dan 'n binneste vertrek binnekant in die middel van die huis ingerig om die verbondsark van die HERE daar neer te sit. En die binneste vertrek was twintig el in lengte en twintig el in breedte en twintig el in sy hoogte, en hy het dit oorgetrek met fyn goud; en die altaar het hy met sederhout bedek. Verder het Salomo die huis van binne met fyn goud oorgetrek, en hy het 'n afsluiting met goue kettings gemaak voor die binneste vertrek, wat hy met goud oorgetrek het. En die hele huis het hy met goud oorgetrek, totdat die hele huis daarmee bedek was; en die hele altaar wat by die binneste vertrek behoort, het hy met goud oorgetrek. Verder het hy in die binneste vertrek twee gérubs gemaak van oliewenhout, tien el hoog. En vyf el was die een vlerk van die gérub, en vyf el was die ander vlerk van die gérub: tien el van die een punt van sy vlerke tot by die ander punt daarvan. En tien el die tweede gérub: altwee die gérubs het een maat en een gestalte gehad. Die hoogte van die een gérub was tien el, en net so die ander gérub. Toe het hy die gérubs in die middel van die binneste vertrek gesit, en die vlerke van die gérubs was uitgesprei, sodat die vlerk van die een aan die een muur en die vlerk van die ander gérub aan die ander muur raak, terwyl hulle vlerke, na die middel van die vertrek toe, vlerk teen vlerk raak. Verder het hy die gérubs met goud oorgetrek. En aan al die mure van die huis rondom, van die binneste en die buitenste vertrek, het hy figure van gérubs en palmbome en oop blomknoppe laat uitsny. En die vloer van die huis, van die binneste en die buitenste vertrek, het hy met goud oorgetrek. En as ingang van die binneste vertrek het hy deure van oliewenhout gemaak; die uitspringende raamwerk van die deurposte het die vorm van 'n vyfhoek gehad. En die twee deurvleuels was van oliewenhout, en daarop het hy figure van gérubs en palmbome en oop blomknoppe laat uitsny en dit met goud oorgetrek, en die goud op die gérubs en op die palmbome ingeslaan. En net so het hy vir die ingang van die hoofvertrek gemaak: deurposte van oliewenhout, vierkantig; en twee deurvleuels van sipreshout: die een vleuel van twee draaibare helftes en die ander vleuel van twee draaibare helftes. En hy het daarop gérubs en palmbome en oop blomknoppe uitgesny, en met goud, dun oor die snywerk uitgeslaan, oorgetrek. Verder het hy die binneste voorhof gebou van drie lae gekapte klip en een laag sederbalke. In die vierde jaar is die fondament van die huis van die HERE gelê, in die maand Sif, en in die elfde jaar, in die maand Bul — dit is die agtste maand — was die huis voltooi in al sy dele en volgens al sy vereistes, sodat hy sewe jaar daaraan gebou het.

1 KONINGS 6:1-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy begin bou aan die tempel van die Here. Dit was in die maand Sif, die tweede maand. Die tempel wat koning Salomo vir die Here gebou het, was dertig meter lank, tien meter breed en vyftien meter hoog. Die voorportaal aan die voorkant van die tempel was tien meter lank, net so lank as wat die tempel breed was. Die breedte daarvan was vyf meter. Salomo het in die tempel vensters aangebring met kosyne en met traliewerk voor. Rondom teen die muur van die tempel het hy 'n platform gebou. Dit het om die mure van die voorste en die binneste heiligdom gestrek, en daarop het hy verdiepings gebou. Die onderste verdieping was twee en 'n half meter breed, die middelste drie meter en die derde drie en 'n half meter. Hy het die tempelmuur so gebou dat dit aan die buitekant regoor elke verdieping nouer was as regoor die vorige, sodat hy nie nodig sou hê om die verdiepings in die tempelmuur self vas te bou nie. Vir die bou van die tempel is klaar gekapte klip uit die groewe gebruik. Daar was geen geraas van hamers, beitels of enige ander ystergereedskap by die tempel toe dit gebou is nie. Die ingang na die middelste verdieping was aan die suidekant van die tempel. 'n Mens kon ook deur 'n luik opgaan na die middelste verdieping toe en daarvandaan na die derde toe. Nadat Salomo die tempel klaar gebou het, het hy 'n dak van oorkruis gelegde sederbalke opgesit. Die platform wat hy buite om die hele tempel gebou het, was twee en 'n half meter hoog, en hy het dit met sederbalke aan die tempelmuur vasgesit. Die woord van die Here het tot Salomo gekom en gesê: “Jy bou nou die tempel. As jy volgens my voorskrifte leef en my bepalings uitvoer en jou aan al my gebooie hou en volgens hulle leef, sal Ek my beloftes wat Ek aan jou vader Dawid gemaak het, nakom teenoor jou. Ek sal tussen die Israeliete woon, Ek sal my volk Israel nie verlaat nie.” Nadat Salomo die tempel klaar gebou het, het hy die mure van die tempel aan die binnekant met sederplanke bedek; van die vloer af tot teen die dakbalke het hy dit met hout oorgetrek. Die vloer self het hy van sipresplanke gemaak. Hy het agter in die tempel tien meter afgeskort met sederplanke, van die vloer af tot teen die dak, en so aan die binnekant 'n binneste heiligdom ingerig, die Allerheiligste. Die groot vertrek, die voorste heiligdom, was twintig meter lank. Dit was aan die binnekant uitgevoer met sederhout, waarop kalbasse en blomknoppe uitgesny is. Alles was sederhout, daar was nie klip sigbaar nie. Hy het die binneste heiligdom binne in die tempel ingerig om die verbondsark van die Here daar te sit. Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Salomo het dit oorgetrek met geslae goud, en die altaar voor die binneste heiligdom het hy met sederhout oorgetrek. Hy het ook die groot vertrek met geslae goud oorgetrek aan die binnekant, en hy het goue kettings gespan voor die binneste heiligdom, wat hy ook met goud oorgetrek het. Die hele vertrek, so groot soos hy was, is met goud oorgetrek, en ook die hele altaar by die binneste heiligdom. In die binneste heiligdom het hy twee gerubs van olyfhout aangebring, vyf meter hoog. Elke vlerk van die gerubs was twee en 'n half meter lank. Van punt tot punt was die vlerke van die een gerub dus vyf meter en net so ook die ander een s'n. Die twee gerubs was ewe groot en het eenders gelyk. Die een was vyf meter hoog, en die ander een ook. Salomo het die gerubs in die binneste vertrek gesit. Hulle vlerke was uitgestrek; die een se een vlerk het aan die een muur geraak en die ander se een vlerk aan die ander muur. Presies in die middel van die vertrek het hulle ander vlerke aan mekaar geraak. Salomo het die gerubs met goud oorgetrek. Rondom teen al die mure van die tempel het Salomo gerubs, palms en blomknoppe in houtsneewerk aangebring, in die binneste en in die buitenste vertrekke. Hy het ook altwee vertrekke se vloere met goud oorgetrek. Vir die binneste heiligdom het hy 'n dubbeldeur van olyfhout gemaak. Die kosyn het 'n vyfhoek gevorm. Op die twee deure van olyfhout het hy gerubs, palms en blomknoppe laat uitsny en dit met goud oorgetrek. Hy het die goud oor die gerubs en die palms aangebring. Dieselfde het hy gedoen by die ingang van die voorste heiligdom. Die kosyn was ook van olyfhout, maar daar het dit 'n vierhoek gevorm. Die twee dubbeldeure was van sipreshout. Op die twee vleuels van elke deur was sirkels uitgesny. Salomo het ook gerubs, palms en blomknoppe op die deure uitgesny en dit met goud oorgetrek. Die goud is in die uitgesnyde dele vasgeslaan. Hy het die binneste voorhof gebou van drie lae gekapte klip en een laag sederhout. Die fondament van die huis van die Here is gelê in die vierde jaar, in die maand Sif, en die tempel met al sy toebehore en sy hele inrigting is voltooi in die elfde jaar, in die maand Bul, die agste maand. Hulle het sewe jaar aan die tempel gebou.

1 KONINGS 6:1-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die vierhonderd-en-tagtigste jaar ná die uittog van die Israeliete uit Egipteland, in die vierde jaar van Salomo se regering oor Israel, in die maand Sif – dit is die tweede maand – het hy die •tempel vir die HERE begin bou. Die tempel wat koning Salomo vir die HERE gebou het, was sestig el lank, twintig el breed en dertig el hoog. Die portaal aan die voorkant van die hoofvertrek van die tempel was, soos die tempel, twintig el breed, en dit was tien el lank. Dit was aan die voorkant van die tempel. Hy het vir die tempel omraamde vensteropeninge met luike gemaak, en rondom, teen die buitemuur van die tempel, het hy 'n struktuur opgerig – dit is reg rondom die mure van die tempel, aan die hoofvertrek en aan die heiligste deel. Hy het rondom sykamers daarin aangebring. Die onderste vlak van die sykamers was vyf el breed, die middelste vlak was ses el breed, en die derde vlak was sewe el breed; want hy het die tempelmuur aan die buitekant rondom trapsgewys vernou, sodat daar nie iets in die tempelmure ingevoeg sou word nie. Die tempel self is by die oprigting met onbewerkte klip uit die steengroef gebou. Hamers en bylpikke, enige gereedskap van yster, is glad nie gehoor by die tempel tydens die oprigting nie. Die ingang na die middelste vlak van die struktuur was aan die regterkant van die tempel. Met trappe het 'n mens opgeklim na die middelste vlak, en van die middelste na die derde. Toe hy die tempelmure klaar gebou het, het hy die tempel bedek met balke en panele van sederhout. Hy het die struktuur opgerig langs die hele tempel; elke vlak was vyf el hoog, en dit was aan die tempel vas met sederhoutbalke. Toe het die woord van die HERE tot Salomo gekom: “Aangaande hierdie tempel wat jy besig is om te bou – as jy my vaste voorskrifte volg, my bepalings uitvoer en al my gebooie nakom deur daarvolgens te leef, sal Ek my belofte oor jou gestand doen, die belofte wat Ek aan jou vader Dawid gemaak het. Ek sal tussen die Israeliete vertoef en my volk Israel nie verlaat nie.” Toe Salomo die tempel klaar gebou het, het hy teen die mure van die tempel aan die binnekant 'n raamwerk van sederhoutplanke aangebring, van die vloer van die tempel tot by die dakbalke van die plafon, en dit toe met hout bedek. Die vloer van die tempel het hy met sipreshout bedek. Die twintig el aan die agterkant van die tempel het hy met sederhoutplanke toegebou, van die vloer tot by die dakbalke. Die binnekant daarvan het hy as heiligdom ingerig, as die Allerheiligste. Die tempel self, dit is die hoofvertrek voor die heiligdom, was veertig el lank. Op die sederhout aan die binnekant van die tempel was daar houtsneewerk van •kolokwinte en blomkelke. Alles was van sederhout; geen klip was te sien nie. Die heiligdom binne-in die tempel het hy ingerig om die verbondsark van die HERE daar te plaas. Aan die voorkant was die heiligdom twintig el breed. Dit was twintig el lank en twintig el hoog. Hy het die binnekant met bladgoud oorgetrek. Hy het ook 'n sederhoutaltaar oorgetrek. Salomo het die binnekant van die tempel met bladgoud oorgetrek. Hy het goue kettings voor die heiligdom gespan en die heiligdom met goud oorgetrek. Die hele tempel het hy met goud oorgetrek – die tempel as geheel. Ook die hele altaar wat by die heiligdom hoort, het hy met goud oorgetrek. In die heiligdom het hy twee gerubs van wilde-olyfhout gemaak, tien el hoog. Die een vlerk van die gerub was vyf el lank, en so ook die ander vlerk van die gerub. Daar was tien el tussen die twee vlerkpunte, en ook tien el by die tweede gerub. Die twee gerubs het dieselfde mate en dieselfde vorm gehad: Die hoogte van die een gerub was tien el, en so ook die tweede gerub. Hy het die gerubs in die binnevertrek geplaas, met die vlerke van die gerubs oopgesprei, sodat die vlerk van die een aan die een muur geraak het en die vlerk van die ander gerub aan die ander muur. Hulle vlerke het in die middel van die vertrek aan mekaar geraak. Hy het die gerubs met goud oorgetrek. Aan die mure van die tempel het hy reg rondom versierings van gerubs en palmette en blomkelke in houtsneewerk aangebring, aan die binne- en buitekant. Die vloer van die tempel het hy met goud oorgetrek, in die binne- en buitevertrekke. Vir die ingang na die heiligdom het hy deure van wilde-olyfhout gemaak. Die kosyn – dit is die deurstyle – was vyfvlakkig. En die twee deure van wilde-olyfhout – daarop het hy houtsneewerk van gerubs, palmette en blomkelke aangebring – het hy met goud bedek. Hy het die goud oor die gerubs en palmette geplet. Net so het hy vir die ingang na die hoofvertrek deurstyle van wilde-olyfhout gemaak – dit was viervlakkig – en ook twee deure van sipreshout. Twee vleuels van die een deur kon oopswaai, en twee vleuels van die ander deur ook. Hy het gerubs, palmette en blomkelke daarop uitgekerf en dit oorgetrek met goud wat oor die kerfwerk gevorm is. Toe het hy die binneste voorhof gebou – drie lae gekapte klip en 'n laag sederhoutbalke. In die vierde jaar is die fondament van die tempel van die HERE gelê, in die maand Sif, en in die elfde jaar, in die maand Bul, dit is die agtste maand, is die tempel voltooi, al die dele en volgens al die vereistes. Salomo het sewe jaar daaraan gebou.

1 KONINGS 6:1-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur in die vier honderd en tagtigste jaar nadat die kinders van Israel uit Egipteland uitgetrek het, in die vierde jaar van Salomo se regering oor Israel, in die maand Sif, dit is die tweede maand, dat hy begin het om die huis van die HERE te bou. En die huis wat koning Salomo vir die HERE gebou het, sy lengte was sestig el en sy breedte twintig el en sy hoogte dertig el. En die voorportaal voor die tempel van die huis was twintig el sy lengte, volgens die breedte van die huis; en tien el was sy breedte voor die huis. En vir die huis het hy vensters van smal ligte gemaak. En teen die muur van die huis het hy kamers rondom gebou, teen die mure van die huis rondom, die tempel sowel as die binnehuis; en hy het kamers rondom gemaak. Die onderste kamer was vyf el breed en die middelste was ses el breed, en die derde was sewe el breed; want buitekant in die muur van die huis het hy smal rusies rondom gemaak, sodat die balke nie in die mure van die huis vasgemaak kon word nie in die huis. En die huis, toe dit gebou was, is gebou van klip wat gereed gemaak is voordat dit daarheen gebring is, sodat daar geen hamer of byl of enige ystergereedskap in die huis gehoor is terwyl dit gebou was nie. Die deur van die middelste kamer was aan die regterkant van die huis, en hulle het met kronkeltrappe in die middelste vertrek opgegaan en uit die middel na die derde. Hy het toe die huis gebou en dit voltooi; en het die huis met balke en planke van sederhout bedek. Toe het hy kamers teen die hele huis gebou, vyf el hoog, en hulle het op die huis gerus met sederhout. En die woord van die HERE het tot Salomo gekom en gesê: Aangaande hierdie huis wat jy besig is om te bou, as jy in my insettinge wandel en my verordeninge voltrek en al my gebooie onderhou om daarin te wandel; dan sal Ek my woord met jou uitvoer wat Ek met jou vader Dawid gespreek het. En Ek sal onder die kinders van Israel woon en my volk Israel nie verlaat nie. Toe het Salomo die huis gebou en dit voltooi. En hy het die mure van die huis van binne gebou met sederplanke, die vloer van die huis sowel as die mure van die dakbedekking; en hy het dit van binne met hout oorgetrek en die vloer van die huis met sipresplanke bedek. En hy het twintig el aan die kante van die huis gebou, sowel die vloer as die mure, met sederplanke; hy het dit ook daarvoor gebou van binne, vir die binnehuis, ja, vir die Allerheiligste. En die huis, dit is die tempel voor dit, was veertig el lank. En die seder van die huis binnekant was uitgesny met knoppe en oop blomme; alles was sederhout; daar was geen klip gesien nie. En hy het die spreekkamer in die huis daarbinne gereed gemaak om die verbondsark van die HERE daar neer te sit. En die binnekant van die voorkant was twintig el in lengte en twintig el in breedte en twintig el in sy hoogte; en hy het dit met suiwer goud oorgetrek; en so het die altaar bedek wat van sederhout was. So het Salomo toe die huis van binne met suiwer goud oorgetrek; en hy het dit met goud oorgetrek. En hy het die hele huis met goud oorgetrek totdat hy die hele huis voltooi het; ook die hele altaar wat by die binnehuis was, het hy met goud oorgetrek. En hy het binne-in die binnekant twee gérubs van olyfboom gemaak, elkeen tien el hoog. En vyf el was die een vlerk van die gérub en vyf el die ander vlerk van die gérub; van die einde van die een vlerk tot by die einde van die ander was tien el. En die ander gérub was tien el; altwee die gérubs was een maat en een grootte. Die hoogte van die een gérub was tien el, en so was dit van die ander gérub. En hy het die gérubs binne-in die binneste huis gestel, en hulle het die vlerke van die gérubs uitgespan, sodat die vlerk van die een aan die een muur geraak het, en die vlerk van die ander gérub aan die ander muur; en hulle vlerke het aan mekaar geraak in die middel van die huis. En hy het die gérubs met goud oorgetrek. En hy het al die mure van die huis rondom uitgesny met gesnede figure van gérubs en palmbome en oop blomme, van binne en van buite. En die vloer van die huis het hy met goud oorgetrek, van binne en van buite. En vir die ingang van die binneste vertrek het hy deure van olyfboom gemaak: die latei en syposte was 'n vyfde deel van die muur. Die twee deure was ook van olyfboom; en hy het daarop uitsnywerk van gérubs en palmbome en oop blomme uitgesny en dit met goud oorgetrek en goud op die gérubs en op die palmbome uitgesmeer. So het hy ook vir die ingang van die tempelposte van olyfboom gemaak, 'n vierde deel van die muur. En die twee deure was van sipres: die twee vleuels van die een deur was vou, en die twee vleuels van die ander deur was vou. En hy het gérubs en palmbome en oop blomme daarop uitgesny en dit met goud oorgetrek wat op die gesnede werk aangebring is. En hy het die binneste voorhof gebou met drie rye gekapte klip en 'n ry sederbalke. In die vierde jaar is die fondament van die huis van die HERE gelê, in die maand Sif; En in die elfde jaar, in die maand Bul, dit is die agtste maand, is die huis voltooi in al sy dele en volgens al die modes daarvan. So was hy sewe jaar besig om dit te bou.

1 KONINGS 6:1-38 Die Boodskap (DB)

Salomo het die tempel in die tweede maand, die maand Sif, begin bou. Dit was 480 jaar nadat Israel uit Egipte getrek het en vier jaar nadat Salomo koning geword het. Salomo se tempel was 30 meter lank, tien meter breed en vyftien meter hoog. Aan die tempel se voorkant was daar ’n voorportaal van tien meter in lengte en vyf meter in breedte. Die voorportaal was net so lank as wat die tempel breed was. Salomo het ook vensters met kosyne en traliewerk ingesit. Aan die buitenste muur van die tempel het hy ’n platform gebou wat om die gebou geloop het. Onder en bo-op hierdie platform het Salomo verdiepings gebou. Elke kamer in die onderste verdieping was ongeveer twee meter breed. In die middelste verdieping was die kamers amper drie meter breed en op die boonste verdieping net oor die drie meter. Al die klippe waarmee die tempel gebou is, is reeds by die steengroef reggekap. Op die tempelterrein was daar dus geen geraas van hamers, byle of ander ystergereedskap nie. Die ingang tot die onderste verdieping was aan die suidekant van die tempel. Van daar kon ’n mens met trappe na die tweede en derde verdieping klim. Salomo het toe die tempel stuk vir stuk klaar gebou. Bo-op die plafon het hy stroke sederhout oorkruis laat lê. Die platform wat hy buite-om die tempel gebou het, was net oor die twee meter hoog. Hy het die platform met groot sederbalke aan die tempel se muur vasgemaak. Die Here het vir Salomo gesê: “As jy My liefhet en elke dag my wil uitleef, sal Ek vir jou doen wat Ek jou pa, Dawid, beloof het. Ek sal in die midde van my volk woon en altyd in die tempel teenwoordig wees. Ek sal Israel nooit verlaat nie.” Salomo het toe die tempel klaar gebou. Die binnemure van die tempel is van bo tot onder met panele van sederhout bedek. Die hele vloer was van sipresplanke. Aan die agterkant van die tempel was daar ’n kamer van tien meter wat die Allerheiligste genoem is. Dit was van die vloer tot die dak met sederhout afgewerk. Uit die Allerheiligste het ’n mens in ’n ander groot kamer ingestap. Dit is die voorste heiligdom genoem en was twintig meter lank. En as ’n mens uit die voorste heiligdom gestap het, het jy in die binneste heiligdom gekom. Dit was die plek waar die verbondsark van die Here gestaan het. Dit is aan die binnekant met sederhout uitgevoer. Op die houtpanele is daar kalbasse en blomknoppe uitgesny. Alles was so netjies met sederhout uitgevoer dat ’n mens nie die klip kon sien nie. Hierdie binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Voor die binneste heiligdom was daar ’n altaar wat Salomo met suiwer goud oorgetrek en met sederhout versier het. Salomo het ook die binneste heiligdom met suiwer goud bedek. Voor die ingang na dié deel is daar ’n ketting van suiwer goud gespan. Nie net die binneste heiligdom nie, maar die hele tempel is met goud afgewerk. Ook die altaar is met goud oorgetrek. Salomo het twee gerubs van olyfhout laat maak en dit in die binneste heiligdom gesit. Elke gerub was vyf meter hoog. Elke gerub se vlerke was twee en ’n half meter lank, dus vyf meter van die een punt van die vlerk tot die ander punt. Albei gerubs was ewe groot en het ook presies dieselfde gelyk. Albei gerubs was vyf meter hoog. Salomo het die gerubs in die binneste heiligdom gesit. Die punt van die een se vlerk het aan die een muur geraak en die ander gerub se vlerkpunt het weer aan die ander muur geraak. Presies in die middel van die vertrek het die gerubs se ander vlerke aan mekaar geraak. Salomo het ook die twee gerubs met suiwer goud oorgetrek. Teen die tempel se binnemure het Salomo gerubs, palms en blomknoppe gehang wat in hout uitgekerf is. In sommige vertrekke is die vloer met goud oorgetrek. ’n Dubbeldeur van olyfhout is by die ingang van die Allerheiligste gesit. Die kosyn het die vorm van ’n vyfhoek gehad. Op albei deure is figure van gerubs, palms en blomknoppe uitgesny en alles is met goud oorgetrek. Salomo het ook twee dubbeldeure by die ingang van die voorste heiligdom geplaas. Die kosyn was ook van olyfhout en het ’n vierhoek gevorm. Albei die dubbeldeure was van sipreshout en op elke deur is ’n groot sirkel uitgesny. Salomo het ook gerubs, palms en blomknoppe op die deure uitgesny en dit toe met goud oorgetrek. Die goud is in die uitgesnyde dele ingedruk. Hy het ook die binneste voorhof aan die voorkant van die tempel gebou. Reg rondom was daar mure van een laag sederhout en drie lae gekapte klip. Die tempel se fondament is in die vierde jaar van Salomo se regering, in die tweede maand, die maand Sif, gelê. In Salomo se elfde regeringsjaar, in die agtste maand, die maand Bul, is die tempel klaar gebou. Die bouwerk het sewe jaar geduur.

1 KONINGS 6:1-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ongeveer in die middel van die lente, vier jaar nadat hy koning geword het, het Salomo die tempel van die HERE begin bou. Dit was 480 jaar nadat die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos is. Die tempel wat koning Salomo vir die HERE gebou het, was 30 meter lank, tien meter breed en vyftien meter hoog. Die voorportaal aan die voorkant van die tempel was tien meter lank, net so breed as wat die tempel was. Dit was vyf meter breed. Salomo het ook vir die tempel vensters met kosyne en traliewerk ingebou. Aan die buitekant van die mure rondom die voorste en die binneste heiligdom, het hy ’n platform gebou met drie vlakke: die onderste vlak was twee en ’n half meter breed, die tweede drie meter en die boonste drie en ’n half meter. Elke vlak het op balke in die mure gerus sodat dit nie nodig was om dit in die tempelmuur self vas te bou nie. Die klippe vir die bou van die tempel is reeds by die steengroef reg gekap. Gevolglik kon die hele gebou opgerig word sonder die geluid van hamers, beitels of enige ander ysterwerktuig. Die ingang na die onderste vlak was aan die suidekant van die tempel. Daar was wenteltrappe waarmee ’n mens na die tweede vlak kon opgaan, en van daar na die boonste een. Nadat Salomo die tempel voltooi het, het hy ’n dak van sederhoutbalke en planke gemaak. Die vlakke op die platform buite om die gebou was elkeen twee en ’n half meter bo mekaar. Dit was met sederbalke in die tempelmuur vasgesit. Die woord van die HERE het weer na Salomo toe gekom: “Jy bou nou hierdie tempel vir My, maar as jy al my bepalings en voorskrifte hou en my gebooie gehoorsaam, sal Ek vir jou doen wat Ek aan jou pa, Dawid, belowe het. Ek sal tussen die Israeliete woon en nooit my volk in die steek laat nie.” Salomo het die tempel voltooi. Hy het al die mure en die plafon aan die binnekant met sederplanke bedek. Die vloer het hy van sipreshout gemaak. Hy het aan die agterkant in die tempel ’n afskorting van die vloer tot teen die plafon gebou met sederplanke tien meter lank. Dit was die binneste heiligdom, genoem die Allerheiligste. Die groter deel aan die binnekant van die tempel was die heiligdom. Dit was twintig meter lank. Al die klipmure van die tempel aan die binnekant was beslaan met sederplanke waarop daar kalbasse en blomme uitgesny was. Alles was met sederhout bedek sodat niks van die klip sigbaar was nie. Salomo het die binneste heiligdom agter in die tempel ingerig as die plek waar die ark van die HERE gesit kon word. Die afmetings van die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Die mure en plafon en ook die altaar met sederhout is met suiwer goud oorgetrek. Daarna het hy die res van die tempel aan die binnekant met suiwer goud bedek. Hy het ook goue kettings gespan voor die ingang na die binneste heiligdom, wat ook met goud bedek was. Hy het die hele tempel, asook die altaar in die binneste heiligdom met goud bedek. In die binneste heiligdom het Salomo twee gerubs van olyfhout gesit. Elkeen was vyf meter hoog. Elke vlerk was twee en ’n half meter lank en die vlerkspan van elke gerub was vyf meter van punt tot punt. Die twee gerubs was identies in vorm en grootte, elkeen vyf meter hoog. Salomo het hulle langs mekaar in die binneste heiligdom van die tempel gesit. Hulle uitgespreide vlerke het van muur tot muur gestrek: die vlerk van die een het teen die muur geraak, terwyl die vlerk van die ander teen die ander muur geraak het. In die middel van die vertrek het hulle vlerke aan mekaar geraak. Hy het die twee gerubs met goud oorgetrek. Rondom teen al die mure van die binneste heiligdom en die hoofvertrek het hy uitgesnyde gerubs, palmbome en blomme laat aanbring. Hy het ook die vloere van albei die vertrekke met goud oorgetrek. Salomo het dubbeldeure van olyfhout by die ingang van die binneste heiligdom gemaak. Hulle kosyne was vyfkantig. Op hierdie deure van olyfhout het hy gerubs en palmbome uitgekerf en met goud oorgetrek. Daarna het hy kosyne van olyfhout gemaak vir die ingang van die tempel. Hulle was vierkantig. Dié dubbeldeure was van sipreshout. Op elke deur was sirkels uitgesny. Hierdie deure is verder versier met gerubs, palmbome en blomme wat daarop uitgekerf was. Alles is met goud oorgetrek. Hy het die binneste hof met drie lae gekapte klip en een laag sederhoutbalke gebou. Die fondamente van die HERE se tempel is in die middel van die lente van die vierde regeringsjaar van Salomo gelê. In die middel van die herfs, tydens sy elfde regeringsjaar, is die hele gebou tot in die fynste besonderhede en volgens die planne voltooi. Dit het dus sewe jaar geneem om die tempel te bou.