1 KONINGS 6

6
Die tempel word gebou
(Vgl. 2 Kron. 3:1-14)
1Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy begin bou aan die tempel van die Here. Dit was in die maand Sif, die tweede maand.
2Die tempel wat koning Salomo vir die Here gebou het, was dertig meter lank, tien meter breed en vyftien meter hoog.
3Die voorportaal aan die voorkant van die tempel was tien meter lank, net so lank as wat die tempel breed was. Die breedte daarvan was vyf meter.
4Salomo het in die tempel vensters aangebring met kosyne en met traliewerk voor.
5Rondom teen die muur van die tempel het hy 'n platform gebou. Dit het om die mure van die voorste en die binneste heiligdom gestrek, en daarop het hy verdiepings gebou. 6Die onderste verdieping was twee en 'n half meter breed, die middelste drie meter en die derde drie en 'n half meter. Hy het die tempelmuur so gebou dat dit aan die buitekant regoor elke verdieping nouer was as regoor die vorige, sodat hy nie nodig sou hê om die verdiepings in die tempelmuur self vas te bou nie.
7Vir die bou van die tempel is klaar gekapte klip uit die groewe gebruik. Daar was geen geraas van hamers, beitels of enige ander ystergereedskap by die tempel toe dit gebou is nie.
8Die ingang na die middelste verdieping was aan die suidekant van die tempel. 'n Mens kon ook deur 'n luik opgaan na die middelste verdieping toe en daarvandaan na die derde toe.
9Nadat Salomo die tempel klaar gebou het, het hy 'n dak van oorkruis gelegde sederbalke opgesit. 10Die platform wat hy buite om die hele tempel gebou het, was twee en 'n half meter hoog, en hy het dit met sederbalke aan die tempelmuur vasgesit.
11Die woord van die Here het tot Salomo gekom en gesê:
12“Jy bou nou die tempel. As jy volgens my voorskrifte leef en my bepalings uitvoer en jou aan al my gebooie hou en volgens hulle leef, sal Ek my beloftes wat Ek aan jou vader Dawid gemaak het, nakom teenoor jou. 13Ek sal tussen die Israeliete woon, Ek sal my volk Israel nie verlaat nie.”
14Nadat Salomo die tempel klaar gebou het, 15het hy die mure van die tempel aan die binnekant met sederplanke bedek; van die vloer af tot teen die dakbalke het hy dit met hout oorgetrek. Die vloer self het hy van sipresplanke gemaak.
16Hy het agter in die tempel tien meter afgeskort met sederplanke, van die vloer af tot teen die dak, en so aan die binnekant 'n binneste heiligdom ingerig, die Allerheiligste.
17Die groot vertrek, die voorste heiligdom, was twintig meter lank. 18Dit was aan die binnekant uitgevoer met sederhout, waarop kalbasse en blomknoppe uitgesny is. Alles was sederhout, daar was nie klip sigbaar nie.
19Hy het die binneste heiligdom binne in die tempel ingerig om die verbondsark van die Here daar te sit. 20Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Salomo het dit oorgetrek met geslae goud, en die altaar voor die binneste heiligdom het hy met sederhout oorgetrek.
21Hy het ook die groot vertrek met geslae goud oorgetrek aan die binnekant, en hy het goue kettings gespan voor die binneste heiligdom, wat hy ook met goud oorgetrek het. 22Die hele vertrek, so groot soos hy was, is met goud oorgetrek, en ook die hele altaar by die binneste heiligdom.
23In die binneste heiligdom het hy twee gerubs van olyfhout aangebring, vyf meter hoog. 24Elke vlerk van die gerubs was twee en 'n half meter lank. Van punt tot punt was die vlerke van die een gerub dus vyf meter 25en net so ook die ander een s'n. Die twee gerubs was ewe groot en het eenders gelyk. 26Die een was vyf meter hoog, en die ander een ook. 27Salomo het die gerubs in die binneste vertrek gesit. Hulle vlerke was uitgestrek; die een se een vlerk het aan die een muur geraak en die ander se een vlerk aan die ander muur. Presies in die middel van die vertrek het hulle ander vlerke aan mekaar geraak. 28Salomo het die gerubs met goud oorgetrek.
29Rondom teen al die mure van die tempel het Salomo gerubs, palms en blomknoppe in houtsneewerk aangebring, in die binneste en in die buitenste vertrekke. 30Hy het ook altwee vertrekke se vloere met goud oorgetrek.
31Vir die binneste heiligdom het hy 'n dubbeldeur van olyfhout gemaak. Die kosyn het 'n vyfhoek gevorm. 32Op die twee deure van olyfhout het hy gerubs, palms en blomknoppe laat uitsny en dit met goud oorgetrek. Hy het die goud oor die gerubs en die palms aangebring. 33Dieselfde het hy gedoen by die ingang van die voorste heiligdom. Die kosyn was ook van olyfhout, maar daar het dit 'n vierhoek gevorm. 34Die twee dubbeldeure was van sipreshout. Op die twee vleuels van elke deur was sirkels uitgesny. 35Salomo het ook gerubs, palms en blomknoppe op die deure uitgesny en dit met goud oorgetrek. Die goud is in die uitgesnyde dele vasgeslaan.
36Hy het die binneste voorhof gebou van drie lae gekapte klip en een laag sederhout.
37Die fondament van die huis van die Here is gelê in die vierde jaar, in die maand Sif, 38en die tempel met al sy toebehore en sy hele inrigting is voltooi in die elfde jaar, in die maand Bul, die agste maand. Hulle het sewe jaar aan die tempel gebou.

Tans Gekies:

1 KONINGS 6: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid