1 JOHANNES 5:16-17
1 JOHANNES 5:16-17 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer julle sien dat die ander gelowiges sonde doen, en dit is sonde wat God sal vergewe, dan moet julle bid vir daardie gelowiges. Julle moet bid vir die gelowiges wat sonde doen wat God sal vergewe. As julle vir hulle bid, dan sal God die ewige lewe vir hulle gee. Maar daar is ook sonde wat God nie sal vergewe nie, en ek sê nie dat julle daarvoor moet bid nie. Alles wat verkeerd is, is sonde, maar daar is sonde wat God vergewe, en daar is sonde wat God nie vergewe nie.
1 JOHANNES 5:16-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As iemand sy broeder 'n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee — vir die wat nie 'n sonde tot die dood doen nie. Daar is 'n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is 'n sonde wat nie tot die dood is nie.
1 JOHANNES 5:16-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie.
1 JOHANNES 5:16-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As iemand sy broer 'n sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid, en God sal aan hom, ja, aan hulle wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie, die lewe gee. Daar is 'n sonde wat tot die dood lei – ek sê nie dat hy daaroor moet bid nie. Elke onreg is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie.
1 JOHANNES 5:16-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As iemand sy broer 'n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en hy sal hom die lewe gee vir die wat nie tot die dood sondig nie. Daar is 'n sonde tot die dood: Ek sê nie dat hy daarvoor sal bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is 'n sonde nie tot die dood nie.
1 JOHANNES 5:16-17 Die Boodskap (DB)
Kyk na die volgende voorbeeld. Sê nou iemand sien ’n medegelowige wat verkeerde dinge doen, maar darem op so ’n manier dat hy Jesus nie heeltemal die rug toekeer nie, wat dan? Wel, dan moet hy in gebed vir God vra om daardie persoon te help. God sal daardie persoon help. Die persoon is immers nog nie by die afgrond van die geestelike dood af nie. In sommige gevalle is persone al klaar by die afgrond af. Ek praat nie oor hulle as ek sê dat julle moet bid nie. Dinge wat nie vir God reg is nie, is natuurlik sonde. Maar deur sonde te doen dompel die gelowige hom nie noodwendig in die geestelike dood in nie.
1 JOHANNES 5:16-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As jy sien dat jou broer of suster aanhou sonde doen – sonde wat nie tot die dood lei nie – moet jy ernstig bid en God sal aan hulle lewe gee. Dit geld vir dié sondes wat nie tot die dood lei nie. Daar is ook sonde wat tot die dood lei; ek sê nie dat jy daarvoor moet bid nie. Elke optrede wat nie reg is nie, is sonde, maar nie elke sonde lei tot die dood nie.