1 KORINTIËRS 5:11-13
1 KORINTIËRS 5:11-13 Bybel vir almal (ABA)
Ek het in daardie brief gesê julle moet wegbly van mense wat sê hulle glo in Christus, maar hulle lewe onsedelik, of hulle wil altyd meer en meer geld en goed hê, of hulle aanbid afgode, of hulle sê lelike dinge van ander mense wat nie waar is nie, of hulle is altyd dronk, of hulle is mense wat ander mense aanval en hulle geld vat. Julle moet wegbly van daardie mense, julle moet ook nie saam met hulle eet nie. Ek wil nie die mense oordeel wat nie aan die gemeente behoort nie. God sal hulle oordeel. Maar julle moet die mense oordeel wat aan die gemeente behoort. In die Ou Testament is geskryf: Julle moet 'n slegte mens afsny van die gemeente.
1 KORINTIËRS 5:11-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as 'n broeder bekend, 'n hoereerder is of 'n gierigaard of 'n afgodedienaar of 'n kwaadspreker of 'n dronkaard of 'n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie? Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.
1 KORINTIËRS 5:11-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself 'n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of 'n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”
1 KORINTIËRS 5:11-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat homself 'n gelowige noem, maar 'n hoereerder of 'n gierigaard is, of 'n afgodedienaar of 'n kwaadprater of 'n dronkaard of 'n rower nie; met so iemand moet julle nie eers saam eet nie. Waarom sou ek die buitestanders oordeel? Moet julle nie eerder diegene in julle eie geledere oordeel nie? God sal die buitestanders oordeel. “Verwyder die slegte mens uit julle midde.”
1 KORINTIËRS 5:11-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar nou het ek aan julle geskryf om nie geselskap te hê as iemand wat 'n broeder genoem word, 'n hoereerder of gierigaard is of 'n afgodedienaar of 'n lasteraar of 'n dronkaard of 'n afperser is nie; met so een nee om nie te eet nie. Want wat moet ek doen om ook die wat buite is, te oordeel? oordeel julle nie die wat binne is nie? Maar die wat buite is, sal God oordeel. Verwyder dan daardie goddelose onder julleself.
1 KORINTIËRS 5:11-13 Die Boodskap (DB)
Wat ek eintlik bedoel het, is dit: julle moet julle nie ophou met iemand wat sê hy is ’n Christen, maar die teenoorgestelde doen nie. Dit is nou “kamma-Christene” wat soos nie-Christene leef deur seksueel skandelike dinge te doen, wat vir niemand behalwe hulleself omgee nie, wat meer lojaal teenoor ander dinge as teenoor die lewende God is, wat allerhande stories versprei wat ander mense baie seermaak, wat in niks anders as drank belangstel nie, of wat net daarop uit is om ander mense te kul en te bedrieg. Met so iemand moet jy niks te doen hê nie. Dit is nie my werk om oor nie-Christene se lewe skeidsregter te speel nie. God sal met daardie mense afreken. Maar julle moet verantwoordelikheid neem vir wat in julle gemeente aangaan. Die Skrif sê mos: “Raak ontslae van die mense onder julle wat nie reg lewe nie.”
1 KORINTIËRS 5:11-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wat ek bedoel het, is wat ek nou in hierdie brief bevestig: Julle moenie in die gemeente assosieer met iemand wat op Christenskap aanspraak maak en ten spyte daarvan ’n onsedelike lewe lei of ’n gierigaard of afgodsdienaar of kwaadsteker of dronkaard of swendelaar is nie. Julle moenie eers saam met so iemand eet nie. Dis nie my taak om oor die buitestanders te oordeel nie. Maar dit is tog sekerlik julle verantwoordelikheid om te oordeel oor dié binne die gemeente wat hulle op hierdie manier skuldig maak. Gód sal sy oordeel vel oor hulle wat buite staan. Maar die Skrif sê: “Julle moet die slegte persoon uit julle midde verwyder.”