1 KORINTIËRS 12:4-31

1 KORINTIËRS 12:4-31 Bybel vir almal (ABA)

Daar is verskillende genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee. En daar is verskillende maniere om die Here te dien in die gemeente, maar dit is dieselfde Here wat sê hoe ons dit moet doen. En daar is verskillende wonderwerke, maar dit is dieselfde God wat mense help om al hierdie dinge te kan doen. Die Gees wys vir elkeen wat hy moet doen, want die Gees weet wat is goed vir die gemeente. Die Gees gee vir die een persoon die genadegawe om altyd te weet wat die regte ding is om te sê. Dieselfde Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om mooi te kan verduidelik wat God wil hê. Dieselfde Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om sterk in God te glo. Dieselfde Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om mense gesond te maak. Die Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om wonderwerke te doen. Hy gee vir 'n ander persoon die genadegawe om die boodskap van God te bring. Hy gee vir 'n ander persoon die genadegawe om te sê of 'n boodskap van God kom of van bose geeste. Hy gee vir 'n ander persoon die genadegawe om in tale te praat. Die Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om te tolk wanneer iemand in tale praat. Dit is dieselfde Gees wat hierdie verskillende genadegawes vir mense gee. Hy gee vir elke gelowige sy eie genadegawe. En Hy besluit self watter genadegawe Hy vir elkeen wil gee. 'n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele. Ja, daar is baie dele, maar die baie dele is saam één liggaam. Christus is ook so. Toe ons gedoop is, het die Heilige Gees vir ons almal saam een liggaam gemaak. Ons is Jode, Grieke, slawe en vry mense, maar dieselfde Gees het in ons almal gekom. 'n Mens se liggaam het nie net een deel nie, dit het baie dele. Die voet sê miskien: “Ek is nie 'n deel van die liggaam nie, want ek is nie die hand nie,” maar dan is die voet nog altyd 'n deel van die liggaam. Die oor sê miskien: “Ek is nie 'n deel van die liggaam nie, want ek is nie die oog nie,” maar dan is die oor nog altyd 'n deel van die liggaam. As die hele liggaam 'n oog was, dink julle die liggaam sou dan kon hoor? As die hele liggaam 'n oor was, dink julle die liggaam sou dan kon ruik? Nee. Maar nou het God vir die liggaam verskillende dele gegee. Hy het elke deel gegee soos Hy wou. As die hele liggaam net een deel was, dan was daar nie 'n liggaam nie. Nou is daar baie dele, maar daar is net een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan ook nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” Nee, party dele van die liggaam lyk miskien vir ons swakker as ander dele, maar die liggaam het hulle baie nodig. Ons wil nie hê dat mense party dele van die liggaam sien nie, ons is skaam daarvoor, daarom maak ons dit toe met mooi klere. Maar daar is dele waarvoor ons nie skaam is nie, ons maak dit nie toe met mooi klere nie. Daar is dele van die liggaam wat vir ons minder belangrik lyk, maar God het die liggaam so gemaak dat daardie dele belangriker is. En daarom baklei die liggaam nie met homself nie, want die dele sorg vir mekaar. Wanneer een deel swaarkry, dan kry al die dele saam swaar. En wanneer die mense een deel prys, dan is al die dele saam bly. Julle is almal saam die liggaam van Christus, en julle is ook elkeen 'n deel van hierdie liggaam. God gee vir elkeen sy plek in die gemeente. Eerste is daar die apostels, tweede is daar die profete, derde is daar die mense wat vir ander mense leer, dan die mense wat wonderwerke doen, dan die mense wat die genadegawes het om mense gesond te maak, die mense wat vir ander mense help, die mense wat leiers in die gemeente kan wees, en die mense wat in tale praat. Almal is nie apostels nie. Almal is nie profete nie. Almal kan nie vir ander mense leer nie. Almal kan nie wonderwerke doen nie. Almal het nie die genadegawe om ander mense gesond te maak nie. Almal praat nie in tale nie. Almal kan nie tolk wat die mense sê wat in tale praat nie. Maar julle moet bid en hard werk om daardie genadegawes te kry wat vir die gemeente die meeste kan help. En dan wys ek vir julle wat die beste ding is om te doen, die beste pad.

1 KORINTIËRS 12:4-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. Want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee, en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil. WANT net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik. En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale. Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie? Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê? Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle 'n nog uitnemender weg.

1 KORINTIËRS 12:4-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is 'n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is 'n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om 'n woord van wysheid te praat, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan 'n ander die gawe om te profeteer, en aan nog 'n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan 'n ander om dit uit te lê. Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik 'n gawe uitdeel soos Hy wil. Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk. Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie. As die voet sou sê: “Omdat ek nie 'n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie. En as die oor sou sê: “Omdat ek nie 'n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie. As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik? Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. As almal saam net een lid was, hoe sou daar 'n liggaam kon wees? Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak, terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen 'n lid daarvan. En in die kerk is daar mense aan wie God 'n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik. Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitlê? Lê julle toe op die beste genadegawes.

1 KORINTIËRS 12:4-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar is 'n verskeidenheid genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is 'n verskeidenheid dienste, maar dit is dieselfde Here; en daar is 'n verskeidenheid aktiwiteite, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in almal bewerk. Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is: Aan een word 'n woord van wysheid deur die Gees gegee, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander gawes van genesing deur die één Gees; aan een dinamiese kragte, aan 'n ander weer die gawe van profesie; aan een die onderskeiding van geeste, aan 'n ander verskillende soorte tale, en aan nog 'n ander die uitleg van tale. Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik uitdeel volgens sy wil. Want soos die liggaam 'n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met •Christus. En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. Inderdaad, die liggaam bestaan nie uit een ledemaat nie, maar uit baie. As die voet sou sê, “Omdat ek nie 'n hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie,” behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê, “Omdat ek nie 'n oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie,” behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die ganse liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As alles gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God die ledemate, elke enkele een van hulle, in die liggaam geplaas volgens sy besluit. As alles een ledemaat was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie ledemate, maar net een liggaam. Die oog kan tog nie vir die hand sê, “Ek het jou nie nodig nie,” of die kop weer vir die voete, “Ek het julle nie nodig nie.” Inteendeel, die oënskynlik swakker liggaamsdele is baie meer noodsaaklik; en daardie dele van die liggaam wat ons as minder eerbaar beskou, klee ons met meer as die gewone eer, en die minder elegante dele met meer elegansie, terwyl ons meer elegante dele dit nie nodig het nie. Maar God het die liggaam so saamgestel, dat Hy meer respek toegewys het aan die deel wat dit die meeste nodig het, sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sal wees nie, maar die ledemate in gelyke mate vir mekaar sal sorg. As een ledemaat ly, ly al die ledemate saam; as een ledemaat vereer word, is al die ledemate saam bly. Julle is die liggaam van •Christus, en elkeen individueel 'n ledemaat. In die •gemeente het God aangewys: eerstens •apostels, tweedens •profete, derdens leraars; daarna kragtige vermoëns, sowel as gawes van genesing, vermoëns om te kan help, om te lei, en verskillende soorte tale. Is almal dan apostels? Is almal dan profete, of almal leraars? Het almal miskien kragtige vermoëns? Het almal miskien gawes van genesing? Spreek almal dalk in tale? Kan almal dit dalk uitlê? Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg.

1 KORINTIËRS 12:4-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Nou is daar 'n verskeidenheid van gawes, maar dieselfde Gees. En daar is verskille van bestuur, maar dieselfde Here. En daar is 'n verskeidenheid van werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal werk. Maar die openbaring van die Gees word aan elke mens gegee om daarby baat te vind. Want aan een word deur die Gees die woord van wysheid gegee; aan 'n ander die woord van kennis deur dieselfde Gees; Aan 'n ander geloof deur dieselfde Gees; aan 'n ander die gawes van genesing deur dieselfde Gees; Vir 'n ander die werking van wonders; na 'n ander profesie; na 'n ander onderskeiding van geeste; aan 'n ander verskillende soorte tale; vir 'n ander die uitleg van tale: Maar al hierdie dinge werk die een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos hy wil. Want soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van daardie een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want deur een Gees is ons almal tot een liggaam gedoop, of ons Jode of heidene is, of ons slawe of vrymense is; en is almal van een Gees laat drink. Want die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie; is dit dan nie van die liggaam nie? En as die oor sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie; is dit dan nie van die liggaam nie? As die hele liggaam 'n oog was, waar was die gehoor? As die hele gehoor het, waar was die reuke? Maar nou het God elkeen van hulle lede in die liggaam geplaas soos dit Hom goedgekeur het. En as hulle almal een lid was, waar was die liggaam? Maar nou is hulle baie lede, maar tog net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; ook nie die kop na die voete nie, ek het jou nie nodig nie. Nee, veel meer is daardie lede van die liggaam nodig wat swakker lyk: En daardie lede van die liggaam, wat ons as minder eerbaar beskou, aan hulle skenk ons meer oorvloedige eer; en ons onaangename dele het oorvloediger kosbaarheid. Want ons pragtige dele het nie nodig nie, maar God het die liggaam getemper deurdat Hy die deel wat ontbreek het, oorvloediger eer gegee het. Dat daar geen skeuring in die liggaam sou wees nie; maar dat die lede dieselfde sorg vir mekaar moet hê. En as een lid ly, ly al die lede saam; of een lid geëer word, al die lede juig daarmee. Nou is julle die liggaam van Christus, en lede in die besonder. En God het sommige in die gemeente aangestel, eerstens apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna wonders, daarna genadegawes van genesing, helpers, regerings, verskillende tale. Is almal apostels? is almal profete? is almal onderwysers? is almal werkers van wonderwerke? Het jy al die gawes van genesing? praat almal in tale? interpreteer almal? Maar begeer ernstig die beste gawes, en tog wys Ek julle 'n voortrefliker weg.

1 KORINTIËRS 12:4-31 Die Boodskap (DB)

Daar is natuurlik baie verskillende gawes wat ons as Christene kan kry, maar dit beteken nie dat daar ’n gees vir elke gawe is nie. Al hierdie gawes kom van een en dieselfde Gees. Daar is ook baie dinge wat aan Christene gegee word om spesiaal te doen, maar dieselfde Here staan agter al hierdie verskillende dinge. Daar gebeur ook baie spesiale dinge met ons as Christene. Dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in ons doen. Die Gees werk in elkeen van ons op ’n unieke manier. Die doel daarvan is egter dat ons vir ander mense iets moet beteken. Daar is baie verskillende maniere waarop die Gees in ons kan werk, byvoorbeeld: Party mense kan vir ’n mens goeie raad gee oor hoe om te leef. Ander kan weer goeie onderwysers vir die Here wees. Dan is daar mense wat in moeilike omstandighede, as ander begin twyfel, steeds eenvoudig blindelings op die Here kan vertrou. Daar is ook sommige deur wie die Gees mense gesond kan maak. Dan is daar nog mense wat dinge kan doen wat gewone mense glad nie kan doen nie. Die Gees sorg ook vir mense wat die boodskap van God duidelik en goed kan verkondig. Dan is daar ook mense wat weet wanneer die Gees van God deur iemand werk en praat en wanneer dit ’n valse gees is. Vir sommige gee die Gees die vermoë om ’n “spesiale taal” te praat terwyl ander die vermoë kry om te verduidelik wat daar met die “spesiale taal” gesê word. Al hierdie dinge kom van een en dieselfde Gees. Hy besluit aan wie Hy wat wil gee en gee dit dan aan daardie persoon. ’n Mens kan Christus vergelyk met ’n menslike liggaam. Daar is net een liggaam, maar die een liggaam het baie dele. Al is daar hoeveel dele, dit bly maar net een liggaam. Met die doop het die Gees ons almal so aan mekaar vasgebind, soos ’n liggaam. Dit maak nie saak wie ons is of waar ons vandaan kom of hoe belangrik mense dink ons is nie, dieselfde Gees werk in ons almal. Soos ek reeds gesê het, het ’n liggaam nie net een liggaamsdeel nie, maar baie. Sê nou die voet kla: “Ek is nie die hand nie. Daarom voel ek nie deel van die liggaam nie,” beteken dit nou dat hy skielik nie meer deel van die liggaam is nie? Nee. Hy bly deel van die liggaam. Net so min hou die oor op om deel van die liggaam te wees net omdat dit nie die oog is nie. Net om te sê: “Ek is nie die oog nie, nou voel ek nie meer deel van die liggaam nie,” verander niks daaraan dat dit deel van die liggaam is nie. As alles nou net oog was, waarmee sou ons dan gehoor het? As die hele liggaam net een groot oor was, waarmee sou ons geruik het? Nee, God het elkeen van die dele van die liggaam ’n spesiale plek in die liggaam gegee, net soos Hy dit beplan het. As die hele liggaam net uit een orgaan bestaan het, hoe sou die liggaam dan nie gelyk het nie! Natuurlik is dit nie so nie, daar is baie dele wat saam die een liggaam uitmaak. Dink julle die oog kan ooit vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie,” of dat die kop dit vir die voete kan toesnou? Om die waarheid te sê, daar is dele van die liggaam waaraan ’n mens nie eens baie dink nie, maar waarsonder die liggaam glad nie kan klaarkom nie. Daar is ander dele van die liggaam wat ons nie wil hê mense moet sien nie. Daarom trek ons klere aan. So wys ons byvoorbeeld dat ons spesiaal vir hierdie liggaamsdele omgee. Aan ander dele van die liggaam waaroor ons nie skaam voel nie, gee ons ook nie so baie aandag nie. God het die liggaam juis so aanmekaargesit. Hy sorg daarvoor dat die dele wat dit nodig het, juis met meer respek behandel word. Daarom kan liggaamsdele nie onder mekaar “stry” nie. Hulle moet eerder respek hê vir mekaar en vir mekaar omgee. As een deel van die liggaam seerkry, voel die hele liggaam die pyn, en as een deel van die liggaam geprys word, voel die hele liggaam bly. Kom ons kyk wat ons hieruit oor julle as gemeente kan leer. Julle as Christene is saam die liggaam van Christus. Elkeen van julle is ’n lid van hierdie liggaam. Een lid van die gemeente is iemand vir wie die Here spesiaal gestuur het om sy boodskap te preek; ’n ander een moet in die gemeente self vertel wat die Here van die gemeente wil hê; dan is daar gemeentelede wat die ander moet touwys maak oor alles wat die Here ons geleer het; dan is daar mense wat spesiale kragtige dinge doen en ander vir wie die Here die krag gee om mense gesond te maak. Die Here het ook gesorg dat daar mense in die gemeente is wat ander kan help as hulle hulp nodig het. Party het weer die vermoë om te sorg dat die gemeentebedrywighede vlot verloop. Dan is daar ook mense in die gemeente wat “spesiale tale” praat. In die gemeente kan almal mos nie presies dieselfde ding doen nie. Almal kan mos nie preek of die ander gemeentelede leer nie. Wie is dan oor om te luister? Die hele gemeente kan mos nie net uit ’n klomp mense bestaan wat net kragtige dinge kan doen en mense gesond kan maak nie. Net so kan almal nie in “spesiale tale” praat of verduidelik wat met die “tale” gesê word nie. Wie gaan dan al die ander dinge doen wat in en deur die gemeente gedoen moet word? Daarom het verskillende lede van die gemeente verskillende dinge van die Here ontvang om te doen. Doen moeite met die gawes wat vir jou situasie die beste is. Maar nou wil ek vir julle van iets vertel wat vir elkeen van julle altyd die beste is.

1 KORINTIËRS 12:4-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daar is ’n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees. En daar is ’n hele verskeidenheid bedienings, maar ons dien dieselfde Here. Daar is talle aktiwiteite in die gemeente, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge kragtig in ons almal aktiveer. Elkeen van ons ontvang ’n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel. Aan die een gee die Gees die bekwaamheid om goddelike wysheid te verkondig, aan ’n ander gee Hy die gawe van spesiale kennis. Aan iemand anders gee hierdie selfde Gees ’n heel besondere geloof, aan nog een gee Hy gawes van genesing, aan ’n volgende een die vermoë om wonders te verrig, aan ’n ander die gawe van profesie, aan nog een die vermoë om te onderskei tussen geeste, aan iemand anders die gawe van praat in tale, aan nog een die bekwaamheid om die tale uit te lê. Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind. Die menslike liggaam het baie ledemate, maar hierdie baie ledemate vorm almal saam net een liggaam. So is dit ook met Christus se liggaam. Party van ons is Jode, ander Grieke, ander weer slawe en nog ander vry mense. Maar ons is almal gedoop sodat ons nou die een liggaam van Christus is. En ons is almal van die een Gees deurdrenk. Ja, die liggaam bestaan nie net uit een ledemaat nie, maar uit baie. As die voet sou sê: “Omdat ek nie die hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog nie minder deel van die liggaam nie. En as die oor sou sê: “Omdat ek maar net ’n oor is en nie ’n oog nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog geensins minder deel van die lig-gaam nie. Veronderstel ’n mens se hele liggaam sou uit ’n oog bestaan – hoe sal jy dan hoor? Of as jou hele liggaam net een groot oor sou wees – hoe sou jy enigiets kon ruik? Maar nou het God dit so beskik dat daar verskillende ledemate sal wees en dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind. As alles net een ledemaat was, dan sou daar mos geen liggaam kon wees nie! Ja, daar is baie lede, maar net een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek kan sonder jou klaarkom” nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: “Ek kan sonder julle klaarkom” nie. Om die waarheid te sê, juis daardie liggaamsdele wat vir ons onbelangrik lyk, is des te meer noodsaaklik. En die dele van ons liggaam wat ons as minder eervol beskou, beklee ons met groter sorg. Op hierdie manier beskerm ons daardie dele waarvoor ons skaam is, vir die oë van ander, terwyl ons ander lede dit nie nodig het nie. God het dus ons liggaam so kunstig saamgestel dat daardie liggaamsdele wat eer kortkom, juis dubbele eer kry. Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar. As een ledemaat swaarkry, kry al die ledemate saam swaar, en as een ledemaat vereer word, juig al die lede saam. Julle is Christus se liggaam en elkeen van julle is ’n noodsaaklike liggaamsdeel. Hier volg nou ’n lys van sommige van die “liggaamsdele” wat God aan sy gemeente gegee het: eerstens die apostels, tweedens die profete, derdens dié wat onderrig gee, dan dié wat wonders doen, dié met gawes van genesing, dié wat ander ondersteun, dié wat leiding gee, dié wat in tale praat. Ons is mos nie almal apostels nie. Ons is nie almal profete nie. Ons het nie almal die gawe om onderrig te gee nie. Ons het nie almal die vermoë om wonders te verrig nie. Ons het nie almal gawes van genesing nie. Ons kan nie almal in tale praat nie. Ons kan nie almal tale uitlê nie. In alle geval – konsentreer op die nuttigste gawes. Maar laat ek julle nou eers vertel waar die eintlike geheim lê.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid