JOB 41:1-25

JOB 41:1-25 AFR83

Hy is wreed as jy hom wakker maak. “Wie wil dan nog teen Mý standhou? Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My. “Ek wil nog verder praat oor die krokodil, oor sy krag en sy liggaamsbou. Wie kan sy bek oopmaak? Wie kan met 'n toom naby sy tande kom? Wie kan sy kakebene oopbreek, sy kakebene met die verskriklike tande? Op sy rug lê die skubbe in rye vas aan mekaar gesluit: die een so teen die ander dat die wind nie daardeur kan waai nie; die een is vas aan die ander, hulle kleef aan mekaar en kan nie geskei word nie. As hy nies, spat die vonke, sy oë is so rooi soos die daeraad. Daar kom vuur uit sy bek, die vonke waai deur die lug. Daar trek rook uit sy neusgate, soos uit 'n kokende pot op 'n vuur. Sy asem steek vure aan, daar skiet vlamme uit sy bek. Daar is groot krag in sy nek; wie hom sien, word deur angs oorval. Sy vleis is saamgepak asof dit aan hom gegiet is, dit gee nie mee nie. Sy hart is so hard soos klip, so hard soos 'n maalklip. Sterkes vlug as hy die water roer. By die eerste rimpeling gee hulle pad. Wie hom met die swaard steek, rig niks uit nie, ook nie met 'n spies, 'n pyl of 'n assegaai nie. Yster is vir hom soos strooi, brons soos vrot hout. Met pyl en boog jaag jy hom nie op die vlug nie, klippe uit 'n slingervel is vir hom niks nie. Aan 'n knopkierie steur hy hom nie, hy lag as 'n swaard op hom afkom. Die skubbe aan sy onderkant het punte soos potskerwe, soos 'n dorsslee maak dit merke op die modder. Hy laat die diep water kook soos in 'n pot, hy laat die water van die meer skuim. Agter hom lê 'n blink streep op die water, lê die diep water wit van die skuim. Op die grond is niemand sy gelyke nie, hy is 'n ondier sonder vrees. Hy kyk met minagting na diere groter as hy, hy is baas selfs oor al die groot diere.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOB 41:1-25

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid