ROMEINE 3:10-26

ROMEINE 3:10-26 AFR83

Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. “Hulle keel is 'n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Hulle laat 'n spoor van verwoesting en ellende agter. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie. ” Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is. Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid