Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het 'n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.” Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat om 'n derde van die mensdom dood te maak. Die aantal perderuiters van hulle leërs was miljoene der miljoene en nog 'n keer soveel. Ek het hulle getal gehoor. En in hierdie gesig het die perde en hulle ruiters só gelyk: hulle het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Die perde se koppe was soos die koppe van leeus, en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael uitgekom. Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgekom het, is 'n derde van die mensdom doodgemaak. Die perde se vermoë om skade te doen, is in hulle bekke en ook in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee pynig hulle die mense. Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie. Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode wat hulle self gemaak het van goud, silwer, koper, klip en hout, en wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie.
Lees DIE OPENBARING 9
Deel
Vergelyk alle weergawes: DIE OPENBARING 9:13-21
28 Dae
Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's