DIE OPENBARING 19:1-7

DIE OPENBARING 19:1-7 AFR83

Hierna het ek iets gehoor soos die harde geluid van 'n groot menigte in die hemel wat uitroep: “Prys die Here! Die oorwinning, die heerlikheid en die mag behoort aan ons God! Regverdig en reg is sy oordele, want Hy het die oordeel voltrek oor die sedelose vrou wat die aarde deur haar onsedelikheid verwoes het. Hy het die dood van sy dienaars op haar gewreek.” Verder het hulle uitgeroep: “Prys die Here! Haar rook styg tot in alle ewigheid op.” Die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het gekniel en God aanbid wat op die troon sit. Hulle het gesê: “Amen! Prys die Here!” Toe het daar 'n stem van die troon af gekom wat gesê het: “Loof ons God, al sy dienaars, dié wat Hom vrees, klein en groot!” Ek het toe iets gehoor soos die geluid van 'n groot menigte, soos die gedruis van 'n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: “Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning. Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid