DIE OPENBARING 18:1-17

DIE OPENBARING 18:1-17 AFR83

Hierna het ek 'n ander engel uit die hemel uit sien afkom. Hy het groot gesag gehad, en die aarde is deur sy heerlikheid verlig. Hy het met 'n sterk stem uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon. Dit het die blyplek van die bose geeste geword, die skuilplek van alle onrein geeste, die skuilplek van alle onrein roofvoëls en die skuilplek van alle onrein en afskuwelike diere, omdat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid gedrink het. Die konings van die aarde het onsedelik met haar verkeer, en die sakemanne van die aarde het ryk geword uit haar grenselose weelde.” Toe het ek 'n ander stem uit die hemel hoor sê: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie. Haar sondes het tot aan die hemel opgehoop, en God het haar ongeregtighede onthou. Behandel haar soos sy julle behandel het, en vergeld haar dubbel soveel as wat sy julle aangedoen het. In die beker waarin sy vir julle ingeskink het, moet julle vir haar twee keer soveel inskink. In die mate waarin sy gepronk en in wellus gelewe het, in dié mate moet julle haar pyn en droefheid aandoen. Sy sê by haarself: ‘Ek sit as koningin op my troon. Ek is nie weduwee nie, en treur sal ek nooit nie.’ Daarom sal al die plae haar op een dag tref: pes, droefheid en hongersnood. Sy sal met vuur verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.” Die konings van die aarde wat onsedelik met haar gelewe en hulle daarin verlustig het, sal huil en te kere gaan oor haar wanneer hulle die rook sien soos sy verbrand word. Hulle sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word, en sal sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, Babilon, die sterk stad! In een oomblik het die oordeel oor jou gekom!” Die sakemanne van die aarde huil en kerm oor haar, omdat daar niemand meer is om hulle goed te koop nie: goue goed en silwergoed, edelstene en pêrels, fyn pers klere en helderrooi syklere, allerhande skaars soorte hout, allerhande dinge van ivoor en allerhande dinge van duur hout, van koper, van yster en van marmer, kaneel en speserye, wierook, reukolie en reukwater, wyn en olyfolie, koring en meel, beeste en skape, perde, waens en slawe en selfs die lewens van mense. Daar sal gesê word: “Hierdie produkte wat die lus van jou lewe was, is nou daarmee heen. Al die weelde en skittering is nou vir jou verlore en sal nêrens en nooit meer gevind word nie.” Die sakemanne wat met hierdie goed handel gedrywe en so van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word. Hulle sal huil en kerm en sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helderrooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels! In een oomblik is soveel rykdom verwoes!”

Video vir DIE OPENBARING 18:1-17