U is goed, Here, U vergewe altyd weer,
U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp.
Luister na my gebed, Here,
gee tog ag op my smeekgebed.
Op die dag van my nood roep ek na U,
U sal my gebed verhoor.
Daar is geen god soos U nie, Here,
niks kan met u werk vergelyk word nie.
U het al die nasies gemaak;
hulle sal voor U kom buig, Here,
en aan u Naam die eer gee,
want U is groot en doen magtige dade,
U alleen is God.
Leer my u pad, Here,
ek wil wandel in u waarheid;
leer my U met toewyding dien.
Met my hele hart sal ek U prys, Here my God,
u Naam altyd eer,
want u liefde vir my was groot:
uit die dieptes van die dood het U my gered.
Dit is hovaardige mense wat my aanval, o God,
'n bende geweldenaars wat my wil doodmaak,
mense wat met U nie rekening hou nie.
U, Here, is 'n barmhartige en genadige God,
lankmoedig, vol liefde en trou.
Sien my, u dienaar van my geboorte af, in genade aan,
gee U my tog krag en red my.
Maak my 'n voorbeeld van u goedheid,
sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesien
dat U, Here, my help en vir my uitkoms gee.