PSALMS 7:1-9

PSALMS 7:1-9 AFR83

'n Klaaglied van Dawid wat hy vir die Here gesing het na aanleiding van die dade van Kus, 'n Benjaminiet. By U soek ek beskerming, Here my God. Help my, red my van almal wat my vervolg, sodat hulle my nie verskeur soos 'n leeu sy prooi nie, my nie uitmekaar skeur sonder hoop op redding nie. As ek iets verkeerds gedoen het, Here my God, as daar onreg aan my hande kleef, as ek 'n vriend van my kwaad aangedoen het, as ek 'n teëstander van my sommer goedsmoeds kaalgestroop het, mag die vyand my dan agtervolg en inhaal, my in die grond in trap, my tot in die stof in verneder. Sela Kom tog, Here, in u toorn, tree op teen die verwoede aanslag van my teëstanders. Kom my te hulp, U wat bepaal het dat reg sal geskied. Laat al die volke rondom U kom staan; neem hoog bo hulle u plek in op u regterstoel! U wat regspreek oor die volke, Here, bevind tog dat ek reg het, Here, dat ek onskuldig is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid