PSALMS 16:1-11

PSALMS 16:1-11 AFR83

'n Gedig van Dawid. Neem my in beskerming, o God; ek soek skuiling by U. Ek het vir die Here gesê: “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U. Die afgode in die land, so aantreklik vir baie – met hulle wil ek niks te doen hê nie. Mag elkeen wat 'n ander god vereer, baie smart beleef. Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie, hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.” Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer. Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid