PSALMS 146:1-10

PSALMS 146:1-10 AFR83

Prys die Here! Ek wil die Here prys. Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is. Moenie op magtiges vertrou nie, nie op 'n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen. Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God. Die Here het die hemel en die aarde gemaak, die see en alles daarin. Hy bly vir altyd getrou, Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly. Die Here bevry die gevangenes, die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief. Hy beskerm vreemdelinge en help weeskinders en weduwees, maar Hy versper die pad vir die goddeloses. Die Here regeer vir altyd. Sion, jou God regeer van geslag tot geslag.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid