PSALMS 145:9-20

PSALMS 145:9-20 AFR83

Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het. Almal wat deur U geskep is, loof U, Here, en u troue dienaars prys U! Hulle vertel van u koninklike mag en getuig van u groot krag. Die mense moet weet van sy krag, van sy koninklike mag en majesteit. U koningskap is 'n koningskap vir alle tye, u heerskappy strek oor die geslagte heen. Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die oë van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd. U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef. Die Here is regverdig in al sy handelinge, getrou in alles wat Hy doen. Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep. Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra, Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle. Die Here beskerm almal wat Hom liefhet, maar al die goddeloses verdelg Hy.