PSALMS 119:73-88

PSALMS 119:73-88 AFR83

Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm; gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan. Dié wat U dien, is bly as hulle my sien, want ek vertrou op u woord. Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is. Dat U my laat swaarkry, is 'n teken van u trou. Gee tog vir my uitkoms deur u troue liefde, soos U my beloof het. Ontferm U oor my, dat ek kan lewe, want ek verlustig my in u wet. Laat die hovaardige mense die slegste daarvan afkom, want hulle het my vals beskuldig; u bevele bly my altyd by. Laat dié wat U dien en u verordeninge ken, aan my kant wees. Laat my volledig by u voorskrifte bly, sodat ek nooit raad-op sal wees nie. Ek smag na u redding, ek vertrou op u woord. Ek sien verlangend uit na die vervulling van u belofte en vra: “Wanneer gee U tog vir my uitkoms?” Ek het verskrompel soos 'n velsak in die rook, maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie. Hoe lank moet ek nog so lewe? Wanneer straf U my vervolgers? Die hovaardiges, wat nie volgens u wet lewe nie, het vir my meer as een keer 'n gat gegrawe om in te val. Op al u gebooie kan ek my verlaat. Help my, want dié mense vervolg my sonder rede. Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn, maar u bevele het ek nie verontagsaam nie. Hou my in die lewe omdat U my liefhet, dan sal ek u onderwysing gehoorsaam.