PSALMS 119:57-72

PSALMS 119:57-72 AFR83

Ek het gesê: “Dít is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.” Ek smeek U met my hele hart: “Wees my genadig, soos U beloof het. Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer. Ek talm nie, ek haas my om u gebooie te onderhou.” Die goddeloses wou my in hulle strikke kry, maar ek het u wet nie verontagsaam nie. Selfs in die middel van die nag staan ek op om U te loof vir u regverdige bepalings. Ek is 'n vriend van almal wat U dien en u bevele gehoorsaam. Die aarde is vol van u troue liefde, Here. Leer my u voorskrifte. U het aan my goed gedoen, Here, soos U beloof het. Gee my goeie insig en kennis, want ek stel my vertroue in u gebooie. Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord. U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte. Hovaardige mense beswadder my, maar ek voer u bevele uit met my hele hart. Hulle staan koud teenoor u wet, maar ék verlustig my daarin. Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer. U wet is vir my kosbaarder as 'n oorvloed van goud en silwer.