PSALMS 119:49-96

PSALMS 119:49-96 AFR83

Onthou tog u woord aan my, die woord waarop U my laat hoop het. Dit is my troos in my ellende: dat u belofte my in die lewe hou. Ek moes die felle spot van hovaardige mense verduur, maar van u wet het ek nie afgewyk nie. Ek onderhou u bepalings van altyd af, Here: dit gee my vertroue. Ontsteltenis het my oorval oor die goddeloses wat u wet verontagsaam. U voorskrifte is vir my 'n lied in my lewe hier op aarde. Selfs in die nag dink ek aan U, Here, en is ek gehoorsaam aan u wet. Om u bevele uit te voer, is vir my die lewe. Ek het gesê: “Dít is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.” Ek smeek U met my hele hart: “Wees my genadig, soos U beloof het. Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer. Ek talm nie, ek haas my om u gebooie te onderhou.” Die goddeloses wou my in hulle strikke kry, maar ek het u wet nie verontagsaam nie. Selfs in die middel van die nag staan ek op om U te loof vir u regverdige bepalings. Ek is 'n vriend van almal wat U dien en u bevele gehoorsaam. Die aarde is vol van u troue liefde, Here. Leer my u voorskrifte. U het aan my goed gedoen, Here, soos U beloof het. Gee my goeie insig en kennis, want ek stel my vertroue in u gebooie. Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord. U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte. Hovaardige mense beswadder my, maar ek voer u bevele uit met my hele hart. Hulle staan koud teenoor u wet, maar ék verlustig my daarin. Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer. U wet is vir my kosbaarder as 'n oorvloed van goud en silwer. Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm; gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan. Dié wat U dien, is bly as hulle my sien, want ek vertrou op u woord. Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is. Dat U my laat swaarkry, is 'n teken van u trou. Gee tog vir my uitkoms deur u troue liefde, soos U my beloof het. Ontferm U oor my, dat ek kan lewe, want ek verlustig my in u wet. Laat die hovaardige mense die slegste daarvan afkom, want hulle het my vals beskuldig; u bevele bly my altyd by. Laat dié wat U dien en u verordeninge ken, aan my kant wees. Laat my volledig by u voorskrifte bly, sodat ek nooit raad-op sal wees nie. Ek smag na u redding, ek vertrou op u woord. Ek sien verlangend uit na die vervulling van u belofte en vra: “Wanneer gee U tog vir my uitkoms?” Ek het verskrompel soos 'n velsak in die rook, maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie. Hoe lank moet ek nog so lewe? Wanneer straf U my vervolgers? Die hovaardiges, wat nie volgens u wet lewe nie, het vir my meer as een keer 'n gat gegrawe om in te val. Op al u gebooie kan ek my verlaat. Help my, want dié mense vervolg my sonder rede. Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn, maar u bevele het ek nie verontagsaam nie. Hou my in die lewe omdat U my liefhet, dan sal ek u onderwysing gehoorsaam. U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel. U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde gemaak, en dit staan vas. Ja, wat U bepaal het, staan vandag nog vas, alles is aan U onderworpe. As ek my nie in u wet verlustig het nie, het ek omgekom in my ellende. Ek sal u bevele nooit verontagsaam nie, want deur hulle het U my in die lewe gehou. Ek behoort aan U, red my, want ek vra steeds wat u bevele is. Al staan die goddeloses gereed om my te vernietig, u verordeninge sal ek in ag bly neem. Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod het geen begrensing nie.