Bewys aan my u troue liefde, Here,
red my volgens u belofte.
Dan sal ek dié wat my vals beskuldig, kan antwoord,
want ek vertrou op u woord.
Weerhou my tog van alles wat onwaar is.
In u bepalings stel ek my vertroue.
Ek wil u wet my hele lewe lank onderhou.
My lewe sal veilig wees,
want ek vra steeds wat u bevele is.
Selfs voor die hoogste gesag sal ek u verordeninge
met vrymoedigheid aanhaal.
In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig.
Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig.
U voorskrifte sal my bybly.
Onthou tog u woord aan my,
die woord waarop U my laat hoop het.
Dit is my troos in my ellende:
dat u belofte my in die lewe hou.
Ek moes die felle spot van hovaardige mense verduur,
maar van u wet het ek nie afgewyk nie.
Ek onderhou u bepalings van altyd af, Here:
dit gee my vertroue.
Ontsteltenis het my oorval
oor die goddeloses wat u wet verontagsaam.
U voorskrifte is vir my 'n lied
in my lewe hier op aarde.
Selfs in die nag dink ek aan U, Here,
en is ek gehoorsaam aan u wet.
Om u bevele uit te voer,
is vir my die lewe.
Ek het gesê: “Dít is my lewe, Here,
om u woord te gehoorsaam.”
Ek smeek U met my hele hart:
“Wees my genadig, soos U beloof het.
Ek het die koers van my lewe oordink
en na u verordeninge teruggekeer.
Ek talm nie, ek haas my
om u gebooie te onderhou.”
Die goddeloses wou my in hulle strikke kry,
maar ek het u wet nie verontagsaam nie.
Selfs in die middel van die nag staan ek op
om U te loof vir u regverdige bepalings.
Ek is 'n vriend van almal wat U dien
en u bevele gehoorsaam.
Die aarde is vol van u troue liefde, Here.
Leer my u voorskrifte.
U het aan my goed gedoen, Here,
soos U beloof het.
Gee my goeie insig en kennis,
want ek stel my vertroue in u gebooie.
Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal,
maar nou hou ek my aan u woord.
U is goed en U doen goed;
leer my u voorskrifte.
Hovaardige mense beswadder my,
maar ek voer u bevele uit met my hele hart.
Hulle staan koud teenoor u wet,
maar ék verlustig my daarin.
Dit is vir my goed dat ek swaargekry het,
want daardeur het ek u voorskrifte geleer.
U wet is vir my kosbaarder
as 'n oorvloed van goud en silwer.
Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm;
gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan.
Dié wat U dien, is bly as hulle my sien,
want ek vertrou op u woord.
Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is.
Dat U my laat swaarkry, is 'n teken van u trou.
Gee tog vir my uitkoms deur u troue liefde,
soos U my beloof het.
Ontferm U oor my, dat ek kan lewe,
want ek verlustig my in u wet.
Laat die hovaardige mense die slegste daarvan afkom,
want hulle het my vals beskuldig;
u bevele bly my altyd by.
Laat dié wat U dien en u verordeninge ken,
aan my kant wees.
Laat my volledig by u voorskrifte bly,
sodat ek nooit raad-op sal wees nie.