PSALMS 107:23-43

PSALMS 107:23-43 AFR83

Party het met skepe die see bevaar en hulle bestaan op die groot waters gemaak. Hulle het die werk van die Here ervaar, sy wonderdade op die diep waters. Op sy bevel het 'n stormwind opgesteek en die golwe opgejaag. Die skepe het hemelhoog gestyg en na die dieptes afgeduik. Die bemanning was radeloos van angs en het soos dronk mense gesteier en gewaggel; al hulle seemanskuns het niks gehelp nie. Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei. Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar. Die seevaarders het hulle verheug oor die kalmte. God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom. Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. Hulle moet van sy grootheid getuig in die volksvergadering, Hom prys in die byeenkoms van die leiers. Hy verander waterryke gebied in woestyn, fonteinwêreld in dorsland, Hy maak vrugbare grond brak oor die slegte dade van dié wat daar woon. Hy verander woestyngebied in rietvlei, dor land in fonteinwêreld en laat honger mense hulle daar vestig dat hulle stede kan stig om in te woon. Hulle bewerk lande en plant wingerde, en dié lewer hulle oeste. Hy seën hulle en hulle word vinnig meer, Hy laat hulle vee nie minder word nie. En as die mense minder word en wegkwyn onder die druk van teëspoed en moeilikheid, dan is dit die magtiges wat Hy tref met vernedering en wat Hy laat ronddwaal in 'n wilde wêreld sonder pad. Hy beskerm die armes teen verdrukking en maak hulle nakomelinge so talryk soos kleinvee. As die opregtes dit sien, is hulle bly: alle onreg het tot 'n einde gekom. Wie verstandig is, moet op hierdie dinge ag gee, hulle moet let op die Here se dade van trou.