NUMERI 10:11-36

NUMERI 10:11-36 AFR83

In die tweede jaar, op die twintigste van die tweede maand, het die wolk opgetrek van die tabernakel met die getuienis af. Die Israeliete het hulle reis toe van die Sinaiwoestyn af verder voortgesit, totdat die wolk in die Paranwoestyn gaan staan het. Hulle het begin trek op bevel van die Here deur Moses. Die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Juda het eerste vertrek. Nagson seun van Amminadab was hier in bevel. Netanel seun van Suar was in bevel van die afdeling van die stam Issaskar, en Eliab seun van Gelon was oor die afdeling van die stam Sebulon. Daarna is die tabernakel afgebreek, en het die Gersongroep en die Merarigroep wat dit moes dra, ook vertrek. Die volgende wat vertrek het, was die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Ruben. Elisur seun van Sedeür was in bevel van hierdie afdeling. Selumiël seun van Suri-Saddai was in bevel van die afdeling van die stam Simeon, en Eljasaf seun van Reüel was oor die afdeling van die stam Gad. Daarna het die Kehatgroep vertrek. Hulle het die gewyde voorwerpe gedra. Die tabernakel moes opgerig wees teen die tyd dat hulle daar aankom. Ná hulle het die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Efraim vertrek. Elisama seun van Ammihud was in bevel van hierdie afdeling. Gamliël seun van Pedasur was in bevel van die afdeling van die stam Manasse, en Abidan seun van Gidoni oor die afdeling van die stam Benjamin. Die volgende wat vertrek het, was die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Dan wat die agterhoede van al die afdelings gevorm het. Agiëser seun van Ammi-Saddai was in bevel van hierdie afdeling. Pagiël seun van Okran was in bevel van die afdeling van die stam Aser, en Agira seun van Enan oor die afdeling van die stam Naftali. Dit was die volgorde waarin die afdelings van Israel op hulle reis vertrek het. Moses het vir Gobab seun van sy skoonpa Reüel, die Midianiet, gesê: “Ons trek na die land waarvan die Here gesê het: ‘Ek sal dit aan julle gee.’ Kom saam met ons. Ons sal jou goed behandel, want die Here het goeie dinge aan Israel beloof.” Maar Gobab het vir Moses gesê: “Ek sal nie saam gaan nie, ek sal teruggaan na my eie land en familie toe.” Moses het toe by hom aangedring: “Moet ons tog nie verlaat nie. Jy ken die plekke in die woestyn waar ons kamp kan opslaan, en jy moet ons gids wees. As jy met ons saam kom, sal ons die goeie dinge wat die Here aan ons gee, met jou deel.” Die Israeliete het van die berg van die Here af weggetrek, drie dagreise ver. Die verbondsark van die Here het gedurende die drie dae voor hulle uit getrek om vir hulle 'n plek te vind waar hulle kon oorbly. Die wolk van die Here was bedags oor hulle as hulle van die kampplek af wegtrek. Elke keer wanneer die ark vertrek, het Moses gesê: “Trek op, Here, verstrooi u vyande! Laat hulle wat vir U haat, voor U wegvlug!” En wanneer die ark neergesit word, sê Moses