Die manlike afstammelinge van die onderskeie stamvaders was: van Ruben die oudste seun van Israel 46 500 van Simeon 59 300 van Gad 45 650 van Juda 74 600 van Issaskar 54 400 van Sebulon 57 400 van Josef se seuns: Efraim 40 500 Manasse 32 200 van Benjamin 35 400 van Dan 62 700 van Aser 41 500 van Naftali 53 400 Dit was in die geval van elke stam die getal weerbare manne van twintig jaar en ouer, getel volgens afkoms en familie. Dit was dan die getal van die manne wat deur Moses, Aäron en die twaalf Israelitiese stamhoofde getel is. Altesaam was die getelde Israeliete 603 550. Dit was die weerbare manne van twintig jaar en ouer, getel volgens families. Die Leviete is nie as afsonderlike stam bygetel nie. Die Here het naamlik vir Moses gesê: “Die stam Levi moet jy nie tel nie en hulle getal moet jy nie by dié van die Israeliete voeg nie. Jy moet die Leviete aanstel om toesig te hou oor die tabernakel met die getuienis, oor al sy gereedskap en al sy toebehore. Hulle moet die tabernakel en sy gereedskap dra; net húlle moet daarmee werk; en hulle moet hulle tente rondom die tabernakel opslaan. As die tabernakel verskuif moet word, moet die Leviete dit uitmekaarhaal; en as dit opgeslaan moet word, moet hulle dit opslaan. 'n Onbevoegde persoon wat nader kom om te help, moet doodgemaak word. “Die ander stamme van Israel moet hulle tente opslaan, elke stam op sy eie staanplek, rondom sy eie vaandel, ingedeel by sy eie leërafdeling, maar die Leviete moet hulle tente rondom die tabernakel met die getuienis opslaan, sodat my toorn nie oor die Israeliete kom nie. So moet die Leviete dan vir die tabernakel met die getuienis sorg.” Die Israeliete het alles presies gedoen soos die Here vir Moses beveel het.
Lees NUMERI 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: NUMERI 1:20-54
18 dae
In die boek Numeri wandel, dwaal en aanbid ons saam met Israel in die 40 jaar in die woestyn. Reis daagliks deur Numeri terwyl jy na die oudiostudie luister en uitgesoekte verse uit God se woord lees.
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's