MARKUS 3:1-19

MARKUS 3:1-19 AFR83

Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was 'n man met 'n gebreklike hand. Die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy hom op die sabbatdag sou gesond maak, sodat hulle vir Jesus daaroor kon aankla. Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Staan op hier tussen hulle!” Daarna vra Hy vir hulle: “Mag 'n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?” Hulle het egter niks gesê nie. Hy het hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle verhardheid. Hy sê toe vir die man: “Steek jou hand uit!” Hy het sy hand uitgesteek en dit was gesond. Die Fariseërs het uitgegaan en dadelik met die Herodiane 'n komplot teen Jesus gesmee om Hom om die lewe te bring. Jesus het toe met sy dissipels teruggegaan na die see toe. 'n Menigte mense het van Galilea af agter Hom aan gegaan. Ook van Judea af, en uit Jerusalem en van Idumea en van oorkant die Jordaan en van rondom Tirus en Sidon af, het daar baie mense na Hom toe gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen. Weens die gedrang het Hy vir sy dissipels gesê om vir Hom 'n skuitjie reg te hou sodat die mense Hom nie vertrap nie. Hy het baie mense gesond gemaak, sodat almal wat die een of ander siekte gehad het, Hom oorval het om aan Hom te raak. As mense wat van onrein geeste besete was, Hom sien, het hulle voor Hom neergeslaan en geskreeu: “U is die Seun van God!” Maar Hy het hulle baie uitdruklik belet om bekend te maak wie Hy is. Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom. Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe. Hy het hierdie twaalf aangestel: Petrus, soos Hy Simon genoem het, Jakobus seun van Sebedeus, en Johannes die broer van Jakobus – vir hulle het Hy die bynaam Boanerges gegee, dit wil sê “manne van die donder” – Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid