Die môre vroeg het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifgeleerdes dadelik as volle Joodse Raad 'n vergadering gehou. Hulle het Jesus geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus uitgelewer. Pilatus het vir Hom gevra: “Is jy die koning van die Jode?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.” Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig. Pilatus het Hom toe verder ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.” Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was. Elke paasfees het Pilatus vir die mense een gevangene, die een wat hulle gevra het, losgelaat. Daar was 'n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg. Daar het toe juis 'n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was. Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het. Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moet loslaat. Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?” “Kruisig hom!” skreeu hulle. “Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle. Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!” Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word. Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar. Toe trek hulle Hom 'n pers mantel aan en vleg 'n doringkroon en sit dit vir Hom op. Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” Hulle het Hom herhaaldelik met 'n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys. Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig. Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus. Hulle bring Jesus toe na 'n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken. Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie. Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry. Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het. En die rede waarom Hy gekruisig is, was op 'n bordjie aan die kruis geskrywe: “Die koning van die Jode.”
Lees MARKUS 15
Deel
Vergelyk alle weergawes: MARKUS 15:1-26
22 dae
Markus se korter Evangelie beskryf Jesus Christus se aardse bediening as die lydende Dienaar en Seun van die mens. Reis daagliks deur Mark terwyl jy na die oudiostudie luister en uitgesoekte verse uit God se woord lees.
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's