MARKUS 1:21-45

MARKUS 1:21-45 AFR83

Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge 'n man wat van 'n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is 'n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.” En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat. Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het daar met 'n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is. Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid. Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe. Daar kom toe 'n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!” Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword. Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek en vir hom gesê het: “Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.” Hy het egter gegaan en dit wyd en syd begin verkondig en dit oral geloop en vertel. Daarom kon Jesus nie meer openlik in 'n dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MARKUS 1:21-45

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid