MIGA 7

7
Maar ek sal vertrou op die Here
1Ellende wag vir my,
ek het geword soos 'n land wat afgeoes is,
soos die natrossies in die wingerd.
Daar is niks om te eet nie,
en ek wou graag voorvye gehad het.
2Daar is nie meer 'n gelowige in die land nie,
onder die mense kry jy nie 'n opregte nie,
almal stel strikke om moord te pleeg,
hulle maak met vangnette jag op hulle broers.
3Al wat die regeerder vra,
is dat hulle goed moet sondig;
die regter vra omkoopgeld,
die vername praat net oor wat hy begeer.
Hulle verdraai alles.
4Die beste onder hulle is soos 'n gifplant,
die opregte erger as 'n doringheining.
Die dag van jou straf kom,
wees op die uitkyk daarvoor!
Hulle sal binnekort in verwarring raak.
5Moenie 'n maat vertrou nie,
moenie op 'n vriend staatmaak nie,
pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê.
6Die seun beledig sy pa,
die dogter kom in opstand teen haar ma,
die skoondogter teen haar skoonma.
'n Man se huismense het sy vyande geword.
7Maar ek sal vertrou op die Here,
ek sal wag vir die God wat my red.
My God sal my gebed verhoor.
8Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand,
al het ek tot 'n val gekom, ek sal weer opstaan,
al sit ek in die donker, die Here is my lig.
9Ek sal aanvaar dat die Here my straf in sy toorn,
want ek het teen Hom gesondig.
Wanneer Hy my saak verhoor
en oor my uitspraak lewer,
sal Hy weer lig bring in my lewe,
sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee.
10My vyand sal dit sien,
hy sal deur skaamte oorval word,
hy wat vir my vra: “Waar is die Here jou God?”
Ek sal op my vyand neersien,
hy sal plat getrap word soos modder op die straat.
U bly nie vir altyd kwaad nie
11Die dag wanneer jou mure herbou word,
dié dag sal jy nie onder die vyand se wet staan nie.
12Dié dag sal hulle na jou toe kom
van Assirië af tot by die vestingstede,
van die vestingstad af tot by die Eufraat,
van die een see af tot by die ander
en van die een berg af tot by die ander.
13Die aarde sal verwoes wees oor sy inwoners,
oor alles wat hulle gedoen het.
14Pas jou volk op met jou kierie,
die kleinvee wat aan jou behoort,
wat alleen wei in die Karmelbos.
Hulle sal in Basan en Gilead wei soos lank gelede.
15Ek sal jou wonders laat sien
soos in die tyd toe jy uit Egipte getrek het.
16Die nasies sal dit sien en teleurgestel staan,
al was hulle ook hoe sterk.
Hulle sal stilbly, hulle sal hulle doof hou.
17Hulle sal stof eet soos die slange
wat op die grond seil,
hulle sal bewe
en uit hulle wegkruipplekke uitkom na die Here ons God toe.
Hulle sal skrik en vir U bang wees.
18Wie is 'n God soos U?
U vergewe sonde,
U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie.
U bly nie vir altyd kwaad nie,
U betoon liefde.
19Hy sal ons weer genade betoon,
Hy sal ons sonde tot niet maak,
U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.
20U sal getrou wees teenoor Jakob,
liefde betoon aan Abraham,
soos U in die voortyd aan ons voorvaders
met 'n eed beloof het.

Tans Gekies:

MIGA 7: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid