MATTEUS 8:28-34

MATTEUS 8:28-34 AFR83

Toe Jesus aan die oorkant in die land van die Gadareners kom, het twee mense wat in die mag van bose geeste was, Hom van die grafte af tegemoet gekom. Hulle was baie gevaarlik, sodat niemand dit langs daardie pad kon waag nie. Skielik het hulle begin skreeu: “Wat het U met ons te doen, Seun van God? Het U hierheen gekom om ons voor die tyd te pynig?” 'n Hele ent van hulle af het 'n groot trop varke geloop. Die bose geeste het Hom gesoebat: “As U ons uitdryf, stuur ons tog in die trop varke in.” “Gaan!” het Hy vir hulle gesê. Hulle is toe uit die mense uit en het in die varke ingevaar. Die hele trop het meteens op loop gesit teen die hang af, die see in, en het in die water versuip. Die wagters het weggehardloop dorp toe en alles daar gaan vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. Die hele dorp het Jesus tegemoet gegaan, en toe hulle Hom sien, het hulle Hom ernstig versoek om hulle gebied te verlaat.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid