Parallel
9
Jesus stuur die twaalf uit
(Matt. 10:5-15; Mark. 6:7-13)
1Jesus het die twaalf bymekaargeroep en aan hulle mag en gesag gegee om alle bose geeste uit te dryf en siektes te genees. 2Toe het Hy hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak. 3Hy het vir hulle gesê:
“Moet niks vir die pad saamvat nie, nie 'n kierie of 'n reissak of brood of geld of nog 'n kledingstuk nie. 4En as julle in 'n huis tuis gaan, bly dan in dieselfde huis totdat julle die reis voortsit. 5As daar mense is wat julle nie wil ontvang nie, moet julle van so 'n plek af weggaan en die stof van julle voete afskud as aanklag teen hulle.”
6Hulle het toe vertrek en van die een dorp na die ander gegaan om oral die evangelie te verkondig en siekes gesond te maak.
Die onsekerheid van Herodes
(Matt. 14:1-12; Mark. 6:14-29)
7Herodes, die heerser, het gehoor van al die dinge wat gebeur, en hy was in die war omdat party mense gesê het: “Johannes is uit die dood opgewek;” 8party: “Elia het verskyn,” en ander: “Een van die profete van die ou tyd het opgestaan.”
9Maar Herodes het gesê: “Johannes het ek self laat onthoof. Maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?”
En hy het geprobeer om Hom te sien te kry.
Die vermeerdering van die brood
(Matt. 14:13-21; Mark. 6:30-44; Joh. 6:1-14)
10Toe die apostels terugkom, het hulle Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Daarna het Hy hulle saamgeneem in die rigting van die dorp Betsaida waar hulle alleen kon wees. 11Maar die mense het dit te wete gekom en agter Hom aan gegaan. Hy het hulle verwelkom en met hulle gepraat oor die koninkryk van God, en dié wat genesing nodig gehad het, het Hy gesond gemaak.
12Toe die son begin sak, kom die twaalf na Hom toe en sê: “Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.”
13“Gee julle vir hulle iets om te eet,” sê Hy toe vir hulle.
Maar hulle antwoord: “Ons het hier niks meer as vyf brode en twee visse nie. Of moet ons self vir hierdie klomp mense gaan kos koop?”
14Net die mans bymekaar was al omtrent vyf duisend.
Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Laat die mense in groepe van sowat vyftig gaan sit om te eet.”
15Hulle het toe so gemaak en almal laat regsit. 16Daarna het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Toe breek Hy dit en gee dit vir die dissipels om aan die mense voor te sit. 17Almal het geëet en genoeg gekry. Wat oorgebly het, het hulle bymekaargemaak, twaalf mandjies vol.
Die belydenis van Petrus. Die eerste lydensaankondiging
(Matt. 16:13-23; Mark. 8:27-33)
18Op 'n keer terwyl Jesus eenkant besig was om te bid, het sy dissipels by Hom saamgekom. Toe vra Hy hulle: “Wie, sê die mense, is Ek?”
19Hulle antwoord: “Johannes die Doper; party sê weer: Elia, en party: 'n profeet van die ou tyd het opgestaan.”
20“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”
Toe antwoord Petrus: “Die Gesalfde van God.”
21Jesus het hulle uitdruklik belet om dit vir ander mense te vertel, 22“want,” het Hy gesê, “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.”
Om Jesus te volg
(Matt. 16:24-28; Mark. 8:34 – 9:1)
23Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, 24want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.
25“Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan? 26Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele. 27Ek sê vir julle die waarheid: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterf voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.”
Die verheerliking op die berg
(Matt. 17:1-8; Mark. 9:2-8)
28Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om te gaan bid. 29Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit. 30Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia. 31Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi.
32Petrus en die ander het intussen vas aan die slaap geraak, en toe hulle wakker word, sien hulle die hemelse glans van Jesus en ook die twee manne wat by Hom staan. 33Toe die manne aanstaltes maak om van Hom af weg te gaan, sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”
Hy het nie geweet wat hy sê nie.
34Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi sy skaduwee oor hulle, en toe die wolk hulle insluit, het die dissipels bang geword. 35Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.”
36Toe die stem praat, merk hulle dat Jesus alleen daar is.
Hulle het hieroor stilgebly en in daardie tyd vir niemand anders enigiets vertel van wat hulle gesien het nie.
Jesus maak 'n seun gesond
(Matt. 17:14-18; Mark. 9:14-27)
37Die volgende dag, toe hulle die berg afkom, het 'n groot klomp mense Jesus tegemoet gekom. 38Meteens roep daar 'n man uit die skare: “Meneer, ek smeek U, kyk bietjie na my seun. Hy is my enigste kind. 39'n Gees pak hom onverwags beet, dan gaan hy skielik aan die skreeu en hy kry stuiptrekkings en ook skuim om die mond. Die gees hou aan om hom te verniel en laat hom nie maklik weer los nie. 40Ek het u dissipels gesmeek om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.”
41Toe antwoord Jesus: “Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.”
42Terwyl die seun nog aankom, gooi die bose gees hom op die grond neer en laat hom hewige stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onrein gees skerp aangespreek, die kind gesond gemaak en hom aan sy pa teruggegee. 43Almal was verslae oor die grootheid van God.
Jesus kondig die tweede keer sy dood en opstanding aan
(Matt. 17:22-23; Mark. 9:30-32)
44Terwyl almal verbaas was oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: “Wat julle betref, hou hierdie woorde goed in gedagte: Die Seun van die mens gaan in die hande van mense oorgelewer word.”
45Maar hulle het hierdie uitspraak nie verstaan nie. Die betekenis daarvan was vir hulle bedek sodat hulle dit nie kon begryp nie, maar hulle was te bang om Jesus daaroor uit te vra.
Wie is die belangrikste?
(Matt. 18:1-5; Mark. 9:33-37)
46Daar het 'n stryery onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. 47Jesus het geweet met watter gedagtes hulle besig was, en Hy trek 'n kindjie nader om langs Hom te kom staan. 48Toe sê Hy vir hulle: “Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hý is groot.”
Wie nie teen julle is nie, is vír julle
(Mark. 9:38-40; vgl. Matt. 12:30; Luk. 11:23)
49Toe sê Johannes: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdryf, en ons het hom probeer keer omdat hy U nie saam met ons volg nie.”
50Maar Jesus sê vir hom: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vír julle.”
'n Samaritaanse dorp wys Jesus af
51Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin 52en boodskappers voor Hom uit gestuur. Hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël. 53Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was.
54Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?”
55Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys.#Sommige manuskripte voeg die volgende bewoording by verse 55 en 56: “Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie,” het Hy gesê. 56 “Die Seun van die mens het immers nie gekom om die lewens van mense te verdelg nie, maar om te red.”, vgl. Mark. 10:45. 56Daarna het hulle die reis voortgesit na 'n ander dorp toe.
Hoe Jesus gevolg moet word
(Matt. 8:19-22)
57Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.”
58Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”
59Aan 'n ander een sê Hy: “Volg My.”
Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.”
60Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.”
61Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.”
62Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”