LUKAS 4:31-44

LUKAS 4:31-44 AFR83

Daarna het Hy na Kapernaum toe gegaan, 'n dorp in Galilea, en die mense gereeld op die sabbatdag geleer. Hulle was verbaas oor sy leer, want Hy het met gesag gepraat. In die sinagoge was daar 'n man wat in die mag was van 'n bose, onrein gees, en hy het hard geskreeu: “Ha! Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet wie U is: U is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” En die bose gees het die man tussen die mense laat neerslaan en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak. Almal was baie verbaas, en hulle raak aan die praat en vra vir mekaar: “Wat vir 'n woord is dit dat hy met gesag en mag die onrein geeste gebied, en hulle gaan uit?” En berigte oor Hom het na elke plek in die omgewing versprei. Toe Jesus die sinagoge verlaat, het Hy na die huis van Simon toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het siek gelê met 'n hewige koors, en hulle het Hom gevra om iets vir haar te doen. Hy het by die koppenent van die bed gaan staan en die koors bestraf. Dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien. Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak. Ook bose geeste het uit baie uitgegaan terwyl hulle skreeu: “U is die Seun van God!” En Jesus het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om sulke dinge te sê nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus is. Teen dagbreek het Hy uitgegaan en na 'n eensame plek toe vertrek. Die mense het Hom begin soek, en toe hulle by Hom uitkom, het hulle Hom probeer beweeg om nie van hulle af weg te gaan nie. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook aan die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.” En Hy het voortgegaan om in die sinagoges van die Joodse land te preek.

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 4:31-44

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid