Parallel
24
Jesus het opgestaan
(Matt. 28:1-10; Mark. 16:1-8; Joh. 20:1-10)
1Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. 2Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; 3en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. 5Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was 7en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.”
8Toe het hulle sy woorde onthou 9en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel. 10Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel. 11Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.
12Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.
Die Emmausgangers
13Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. 14Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. 15Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, 16maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. 17Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”
Met somber gesigte gaan hulle staan, 18en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”
19Hy vra vir hulle: “Watter dinge?”
Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; 20en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. 21Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”
25Toe sê Hy vir hulle: “Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 26Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”
27Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.
28Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.”
Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”
33Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, 34en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”
35Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.
Jesus verskyn aan die dissipels
(Matt. 28:16-20; Mark. 16:14-18; Joh. 20:19-23; Hand. 1:6-8)
36Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”
37Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien 'n gees. 38Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? 39Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! 'n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” 40Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.
41Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?”
42Hulle gee Hom toe 'n stuk gebakte vis. 43Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.
44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”
45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ 48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”
Die hemelvaart van Jesus
(Mark. 16:19-20; Hand. 1:9-11)
50Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. 53Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.