LUKAS 22:54-62

LUKAS 22:54-62 AFR83

Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op 'n afstand agterna gekom. In die middel van die binneplaas was daar 'n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit. 'n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een was ook saam met daardie man.” Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!” 'n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle.” Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!” Na verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook 'n Galileër!” Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!” En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai. Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.” En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid