LUKAS 20:27-40

LUKAS 20:27-40 AFR83

'n Aantal Sadduseërs – dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is – kom toe nader en vra vir Jesus: “Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek. Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe. Ook die tweede en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan. Daarna het die vrou ook gesterwe. Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad.” Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ . Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.” Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: “Meneer, u het goed geantwoord.” Hulle het nie meer gewaag om Hom 'n enkele vraag te stel nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 20:27-40

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid