LUKAS 10:1-24

LUKAS 10:1-24 AFR83

Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in. “Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie. As julle in 'n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’ As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom. Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon. As julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit. Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ‘Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’ Maar as julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: ‘Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’ Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp. “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, dink jy jý sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal! “Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.” Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val. Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. “My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand weet wie die Seun is nie behalwe die Vader, en wie die Vader is nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil bekend maak.” Toe draai Jesus Hom na sy dissipels afsonderlik en sê vir hulle: “Hoe bevoorreg is die oë wat sien wat julle sien, want Ek sê vir julle: Baie profete en konings het daarna verlang om te sien wat julle nou sien, en hulle het dit nie gesien nie; en om te hoor wat julle nou hoor, en hulle het dit nie gehoor nie.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 10:1-24

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid