LUKAS 1:57-69

LUKAS 1:57-69 AFR83

Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy 'n seun in die wêreld gebring. Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly. Op die agste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa. Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.” Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!” Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word. Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas. Onmiddellik het Sagaria sy spraak teruggekry en begin praat en God geprys. Almal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge. Almal wat dit gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal hierdie kindjie eendag word?” Dit was duidelik dat die Here by hom was. Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. 'n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid