KLAAGLIEDERE 4
AFR83
4
Groter as die sonde van Sodom
1Ag, hoe dof het die goud geword,
hoe het die goeie goud
sy glans verloor!
Die gewyde edelstene lê weggegooi
op al die hoeke van die strate!
2Sion se kosbare inwoners,
vroeër so waardevol geag soos suiwer goud –
ag, hoe word hulle nou beskou as erdepotte,
die werk van 'n pottebakker.
3Selfs 'n jakkals gee vir sy kleintjie die speen
en laat hom drink,
maar my volk het so wreed geword
soos volstruise in die woestyn.
4Die suigelinge se tonge
sit aan hulle verhemeltes vas van die dors;
kindertjies smeek om brood
maar niemand gee vir hulle iets nie.
5Mense wat vroeër ryk geëet het,
beswyk nou van honger op die strate,
mense wat in weelde grootgeword het,
lê nou op die vuilgoedhope.
6Die sonde van my volk
is groter as dié van Sodom
wat in 'n oomblik vernietig is
sonder dat mense daar 'n hand teen uitgesteek het.
7Die leiers van Sion het meer glans gehad as sneeu,
hulle was witter as melk,
blakend gesond van kleur,
mooi van voorkoms.
8Maar nou is hulle swarter as roet,
hulle word nie eens op die strate herken nie;
hulle is net vel en been,
uitgedroog, soos hout.
9Dié wat deur die swaard doodgemaak is,
is beter daaraan toe as dié wat van honger omkom,
wat wegkwyn en sterwe omdat die lande geen opbrengs het nie.
10Met hulle eie hande het moeders
wat vroeër liefdevol was, hulle kinders gekook;
dit het hulle kos geword
toe my volk ineengestort het.
11Die Here het aan sy gramskap vrye teuels gegee,
Hy het sy toorn uitgegiet,
Hy het in Sion 'n vuur aangesteek
wat hom tot op sy fondamente verteer het.
12Geeneen van die konings van die aarde,
geen mens ter wêreld sou geglo het
dat 'n teëstander of enige aanvaller
ooit by Jerusalem se poorte sou inkom nie.
13Dit het gebeur oor die sondes en oortredinge
van die stad se profete en priesters
deur wie onskuldige mense
daar om die lewe gebring is.
14Profete en priesters het deur die strate gestrompel soos blindes,
hulle was bevlek met bloed,
niemand wou dit waag om aan hulle klere te raak nie.
15Mense het vir hulle geskree: “Gee pad! Julle is onrein!
Gee pad, gee pad, moenie aan ons raak nie!”
En toe hulle vlug en wegstrompel,
het ook die heidennasies gesê:
“Hulle mag nie hier by ons bly nie!”
16Die Here self het hulle verstrooi,
Hy trek Hom hulle lot nie meer aan nie.
Daar is geen meegevoel met die priesters nie,
daar word geen genade aan die leiers betoon nie.
17Ons kyk ons oë moeg
om hulp wat nie opdaag nie;
van ons wagpos af kyk ons in verwagting uit
na 'n nasie wat nie help nie.
18Ons bewegings word dopgehou,
ons kan dit nie op straat waag nie.
Ons einde is naby, ons dae is getel,
ons einde het aangebreek!
19Ons agtervolgers was vinniger
as die arende in die lug;
hulle het in die berge op ons hakke gelê
en ons in die woestyn in 'n hinderlaag gelei.
20Ons koning van wie ons lewe afhanklik is, die gesalfde van die Here,
is gevang in hulle vanggate,
hy van wie ons gedink het dat ons onder sy beskerming
sal leef onder die nasies.
21Wees gerus maar opgewek en bly, Edom,
jy wat in Us woon,
maar ook jy sal die oordeelsbeker moet drink,
jy sal daarvan dronk word en jouself ontbloot.
22Die straf vir jou sonde is beëindig, Sion,
die Here sal jou ballingskap nie laat voortduur nie;
maar jóú sonde gaan Hy straf, Edom,
jóú ongeregtigheid gaan Hy aan die kaak stel.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.

Vind meer uit oorAfrikaans 1983