JOB 33

33
1Luister nou na my, Job,
luister wat ek sê.
2Ek gaan nou praat,
my woorde lê al op my tong.
3Ek gaan reguit praat,
ek gaan eerlik sê wat ek weet.
4Die Gees van God het my gemaak,
die asem van die Almagtige het my die lewe gegee.
5Antwoord my as jy kan,
maak jou klaar om my teë te staan.
6Voor God is ek en jy gelyk,
ook ék is maar net uit klei gevorm.
7Ek wil jou nie die skrik op die lyf ja nie,
ek sal dit nie vir jou moeilik maak nie.
8Ek het jou met my eie ore hoor sê,
hier waar ek dit gehoor het, het jy gesê:
9‘Ek is onskuldig, ek het nie oortree nie,
ek is rein, ek het nie gesondig nie.
10Tog soek God fout by my,
beskou Hy my as sy vyand.
11Hy behandel my as 'n gevangene,
Hy hou elke voetstap van my dop.’
12Ek sê vir jou: Hierin is jy verkeerd;
God is meer as die mens.
13Waarom beskuldig jy vir God?
Hy hoef nie vir jou rekenskap te gee van sy dade nie.”
Elihu: God spreek die mens aan
14“God spreek die mens aan,
Hy huiwer nie om dit op meer as een manier te doen nie.
15Hy praat met die mens in 'n droom, in 'n gesig in die nag,
wanneer die mens diep slaap,
wanneer hy vas slaap op sy bed.
16Dan openbaar God Hom aan die mens
en dreig dat Hy hom sal straf
17om hom van verkeerde dade af weg te hou
en hom van hoogmoed te weerhou.
18God wil die mens nie die graf laat ingaan nie,
Hy wil hom nie laat sterf nie.
19“Of Hy spreek die mens aan met ernstige siekte,
met pyn wat aan sy liggaam knaag,
20sodat alle kos hom walg,
selfs die lekkerste ete.
21Die vleis aan sy liggaam is so weggevreet
dat jy dit nie meer kan sien nie,
jy sien nou net been.
22Hy is op pad na sy graf toe,
na dié toe wat klaar dood is.
23As daar dan 'n engel by hom sou wees,
een uit duisende, wat vir hom pleit,
en vir hom sê wat sy plig is,
24wat hom jammer kry en sê:
‘Red hom dat hy nie sterf nie,
ek het 'n losprys vir hom,’
25dan sal sy liggaam weer jonk word,
weer word soos in die dae van sy jeug.
26Hy sal tot God bid, God sal sy gebed verhoor,
hom met vreugde laat bid,
hom 'n mens maak wat weer reg leef voor God.
27Dan getuig hy voor die mense:
‘Ek het gesondig, my nie gesteur aan wat reg is nie,
en tog het God my nie gestraf soos ek verdien nie.
28Hy het my gered, ek het nie gesterf nie,
nou lewe ek weer.’
29“Dit alles doen God met die mens,
selfs meer as een keer.
30So keer God die mens weg
van die graf af
en laat Hy hom weer lewe.
31“Luister, Job, luister na my,
bly stil, ek wil praat.
32Of as jy tog iets vir my wil sê,
sê dit dan,
praat, ek sal jou graag gelyk wil gee.
33Maar as jy niks het om te sê nie, luister na my, bly stil, laat ek jou leer wat wysheid is.”

Tans Gekies:

JOB 33: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid