JOHANNES 3:22-36

JOHANNES 3:22-36 AFR83

Hierna het Jesus en sy dissipels na die platteland van Judea toe gegaan. Hulle het 'n rukkie daar gebly en mense gedoop. Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, waar daar baie water was. Die mense het na hom toe gekom en is deur hom gedoop. Johannes was nog nie in die tronk gesit nie. Daar het toe tussen Johannes se volgelinge en 'n Jood 'n woordewisseling ontstaan oor die reiniging. Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.” Johannes het hulle geantwoord: “Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’ Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul. Hy moet meer word en ek minder. “Hy wat van bo af kom, is bo almal; hy wat van die aarde is, hoort by die aarde en praat die taal van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. Wat Hy gesien en gehoor het, dít getuig Hy, en tog aanvaar niemand sy getuienis nie. Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur bevestig dat God geloofwaardig is. God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking. Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOHANNES 3:22-36

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid