JOHANNES 18:28-40

JOHANNES 18:28-40 AFR83

Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?” Hulle het hom geantwoord: “As hy nie 'n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.” Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.” Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.” Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe. Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?” Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?” “Ek is mos nie 'n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?” “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” “Dan is jy tog wel 'n koning?” vra Pilatus. “Dit is soos u sê: Ek is 'n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.” “Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom. En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was 'n rower.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid