JOHANNES 18:1-27

JOHANNES 18:1-27 AFR83

Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was 'n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het. Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?” “Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom. “Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle. Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval. Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus van Nasaret.” Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.” So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.” Simon Petrus het 'n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?” Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe. Simon Petrus en 'n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” “Nee, ek is nie!” antwoord hy. Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak. Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, Hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?” Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?” Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur. Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?” Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!” Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?” Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar 'n haan gekraai.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid