JOHANNES 16:16-33

JOHANNES 16:16-33 AFR83

“Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien.” Party van sy dissipels het toe vir mekaar gevra: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’? Hierdie ‘klein rukkie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit? Ons weet nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê. Jesus het gemerk dat hulle dit vir Hom wou vra, en Hy sê toe vir hulle: “Praat julle met mekaar daaroor dat Ek gesê het: Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien? Dit verseker Ek julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander. 'n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar 'n mens in die wêreld gekom het. Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie. Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie. “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” “Dit het Ek deur beeldspraak vir julle gesê. Daar kom 'n tyd wanneer Ek nie meer deur beeldspraak met julle sal praat nie maar julle reguit van die Vader sal vertel. Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie, want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U reguit en gebruik nie beeldspraak nie. Nou weet ons dat U alles weet, en niemand hoef U verder uit te vra nie. Ons glo nou dat U van God gekom het.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou? Kyk, daar kom 'n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid