JEREMIA 33:10-16

JEREMIA 33:10-16 AFR83

So sê die Here: Daar word nog gehoor dat julle van hierdie plek sê dit is verwoes, sonder mense en sonder diere. Maar in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem wat verwoes en sonder mense en sonder inwoners en diere was, sal daar weer blydskap en vreugde wees, ook huweliksfeeste, die mense sal die Here die Almagtige loof. Dié wat dankoffers na die huis van die Here toe bring, sal sê: “Loof die Here die Almagtige, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Ek sal die lot van die land verander, dit sal weer wees soos vroeër, sê die Here. So sê die Here die Almagtige: In hierdie plek wat so verwoes is dat geen mens of dier oorgebly het nie, en by al sy stede sal weer weiveld vir kuddes wees, lêplek vir kleinvee. In die stede van die Bergland, in dié van die Laeveld en in dié van die Suidland, in die gebied van Benjamin en in die omgewing van Jerusalem, en in die stede van Juda sal daar weer kleinvee wees om te tel, sê die Here. Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek die goeie belofte sal nakom wat Ek aan Israel en Juda gemaak het. In daardie dae, in daardie tyd, sal Ek vir Dawid 'n wettige afstammeling gebore laat word en hy sal in die land reg laat geskied en reg doen. In daardie dae sal Juda gered word en Jerusalem sal onbesorg woon en genoem word: Die Here verskaf reg aan ons.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid