RIGTERS 4:1-10

RIGTERS 4:1-10 AFR83

Na Ehud se dood het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Here het hulle oorgegee in die mag van koning Jabin van Kanaän wat in Hasor geregeer het. Sisera uit Garoset-Gojim was die hoof van Jabin se weermag. Hy het nege honderd ysterstrydwaens gehad en hy het die Israeliete twintig jaar lank verdruk. Daarom het hulle tot die Here geroep om hulp. In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was 'n profetes. Sy het altyd onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit, en die Israeliete het daarheen gekom sodat sy hulle geskille kon bylê. Sy het vir Barak seun van Abinoam uit Kedes in Naftali laat roep en vir hom gesê: “Die Here die God van Israel beveel jou: Trek met tien duisend man uit Naftali en Sebulon op na Taborberg toe. Ek sal vir Sisera, die hoof van Jabin se leër, met sy strydwaens en sy leër na jou toe laat optrek tot by Kisonspruit en Ek sal hulle in jou mag oorgee.” Barak het haar geantwoord: “As u saamgaan, sal ek optrek, maar as u nie saamgaan nie, gaan ek nie.” Sy het vir hom gesê: “Goed, ek sal saamgaan, maar jy sal nie die eer vir die veldtog kry nie: die Here sal vir Sisera aan 'n vrou uitlewer.” Toe het Debora klaargemaak en saam met Barak na Kedes toe gegaan. Barak het vir Sebulon en Naftali daarheen ontbied. Tien duisend man het vir Barak gevolg, en Debora het saam met hom opgetrek.

Gratis leesplanne en oordenkings oor RIGTERS 4:1-10

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid