JESAJA 60

60
Nasies kom na jou lig toe
1Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig!
Vir jou het die lig gekom,
die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.
2Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid.
3Nasies kom na jou lig toe
en konings na die glans van die nuwe dag
wat vir jou aangebreek het.
4Kyk rondom jou, kyk,
hulle kom almal bymekaar,
hulle kom na jou toe:
jou seuns kom van ver af,
jou dogters word met liefde gebring.
5Jy sal dit sien en van vreugde straal,
jy sal bewe van blydskap,
want die rykdom van die see word joune,
die skatte van die nasies kom in jou besit.
6Jou land sal vol kamele wees,
jong kamele uit Midian en Efa.
Almal wat uit Skeba kom,
bring goud en wierook
en verkondig die lof van die Here.
7Al die kleinvee van Kedar word vir jou bymekaargemaak,
die ramme van Nebajot is tot jou beskikking;
hulle is aanneemlike offers op my altaar.
So vermeerder Ek die roem van die huis
waar Ek geëer word.
8Wat kom hier aangesweef soos wolke,
soos duiwe na hulle neste toe?
9Dit is die skepe van die eilande wat na My toe op pad is;
heel voor is die skepe van Tarsis af.
Hulle bring jou seuns van ver af,
en ook silwer en goud,
tot eer van die Here jou God,
die Heilige van Israel,
omdat Hy jou roem wil vermeerder.
10Uitlanders sal jou mure herbou,
en hulle konings sal in jou diens wees.
Ek het jou in my toorn gestraf,
maar in my genade ontferm Ek My oor jou.
11Jou poorte sal altyd oop staan,
dag of nag sal hulle nie gesluit word nie
sodat die rykdomme van die nasies na jou toe gebring kan word,
en hulle konings as gevangenes na jou toe gelei kan word.
12Die nasie, die koninkryk wat jou nie dien nie, sal verdwyn,
dié nasies sal heeltemal tot niet gaan.
13Die hoë bome van die Libanon sal na jou toe kom,
sipresse, platane en denne,
om die roem van my heiligdom te vermeerder,
om luister te verleen aan my tempel:
14dié wat jou verdruk het,
sal na jou toe kom en buig,
almal wat jou met minagting behandel het,
sal by jou voete kniel.
Hulle sal jou noem: Stad van die Here,
Sion van die Heilige van Israel.
15Jy sal nie meer verstoot en gehaat wees nie,
'n plek waar niemand kom nie,
want Ek gee blywende roem aan jou,
vreugde sonder einde.
16Jy sal deur nasies en konings versorg word
soos 'n kind wat aan sy moeder se bors gevoed word.
Dan sal jy besef dat Ek die Here is, jou Redder,
dat die magtige God van Jakob jou Verlosser is.
17Ek gee vir jou goud in die plek van brons,
silwer in die plek van yster,
brons in die plek van hout,
yster in die plek van klip.
Ek laat vrede oor jou regeer,
Ek laat geregtigheid jou bestuur.
18Daar sal nie meer gehoor word van geweld in jou land nie,
of van ondergang en verwoesting binne jou grense nie.
Jy sal jou mure noem: Redding,
jou poorte: Lof.
19Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie,
snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie:
die Here sal vir jou 'n ewige lig wees,
en jy sal roem in jou God.
20Jou son en jou maan is die Here,
Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie.
Die Here sal vir jou 'n ewige lig wees,
jou dae van smart is verby.
21Al jou inwoners sal regverdiges wees,
hulle sal die land vir altyd besit.
Hulle is die loot wat Ek self daar geplant het,
die werk van my hande
om my roem te vermeerder.
22Die kleinste onder hulle sal duisende word,
die swakste 'n sterk nasie.
Wanneer die tyd daarvoor kom, doen Ek dit.
Ek is die Here.

Tans Gekies:

JESAJA 60: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid