JESAJA 59:1-13

JESAJA 59:1-13 AFR83

Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie. Julle hande is met bloed bevlek, julle vingers met onreg. Julle praat net leuens, julle bedink net onreg. Niemand stel sy saak eerlik nie, geen uitspraak is betroubaar nie. Almal vertrou op leë woorde, wat hulle sê, is nie waar nie, hulle is swanger van kwaad, hulle bring onreg voort. Hulle broei slangeiers uit, hulle weef spinnerakke. Wie van daardie eiers eet, sterf; as dit oopgebreek word, kom daar slange uit. Hulle spinnedrade deug nie vir klere nie, hulle kan hulle nie toemaak met wat hulle gemaak het nie; hulle dade is misdade, hulle pleeg net geweld. Hulle is daarop uit om kwaad te doen, hulle aarsel nie om onskuldige bloed te vergiet nie. Hulle planne is bose planne: oral waar hulle gaan, is daar verwoesting en ondergang. Hulle ken nie so iets soos 'n pad van vrede nie, waar hulle loop, is daar geen reg nie; hulle loop krom paaie, wie hulle volg, sal nie vrede ken nie. Daarom is daar geen sprake van reg en geregtigheid vir ons nie. Ons wag op lig, maar dit bly donker, ons wag op 'n straaltjie lig, maar ons pad bly pikdonker. Ons tas teen die mure soos blindes, ons tas rond soos mense wat geen oë het nie. Ons struikel helder oordag soos in die skemer, ons is soos dooies onder gesonde mense. Ons is almal soos grommende bere, soos duiwe wat kla en kla. Ons wag op reg, maar daar is geen reg nie, op redding, maar dit bly ver van ons af. Ons oortredings teen U is baie, ons sondes kla ons aan. Ons oortredings bly ons by, ons bly bewus van ons sondes: die oortreding en die geveinsdheid teenoor die Here, die ontrou teenoor ons God, die beplanning van onderdrukking, die verdraaiing van die reg, die uitdink en rondvertel van leuens.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid